OUDTSHOORN NUUS - Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het Vrydagoggend, 29 November, die misdaadstatistieke vir die tweede kwartaal in Pretoria bekendgestel.
Die tydperk strek van Julie tot September 2025 en tref ook ’n vergelyking met verlede jaar oor dieselfde tydperk.
Hoewel dit blyk dat misdaad, veral in Oudtshoorn, redelik afgeneem het, moet daar in ag geneem word dat nie alle misdrywe wat gebeur gerapporteer word nie.
Oudtshoorn
In Oudtshoorn het ernstige misdrywe wat deur die gemeenskap gerapporteer word, afgeneem. Hierdie misdrywe sluit diefstal, kommersiële misdrywe en winkeldiefstal in.
Misdrywe wat toegeneem het was poging tot moord, seksuele misdrywe, roof by nie-residensiële persele, diefstal van voertuie, veediefstal, onwettige besit van vuurwapens en bestuur onder die invloed van drank en/of dwelms.
Misdrywe wat afgeneem het was moord, seksuele misdrywe, roof met verswarende omstandighede, verkragting, poging tot seksuele misdrywe, brandstigting, kwaadwillige saakbeskadiging, inbrake by residensiële en nie-residensiële persele, en diefstal vanuit voertuie.
Calitzdorp
Misdrywe wat skerp toegeneem het was aanranding met die opset om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede, diefstal by nie-residensiële persele, diefstal vanuit voertuie, diefstal, en dwelmverwante misdrywe. Die meeste van hierdie misdrywe het meer as verdubbel. Ander misdrywe wat ook gestyg het, maar nie so drasties nie, roof by nie-residensiële persele, brandstigting, kwaadwillige saakbeskadiging, veediefstal en bestuur onder die invloed van alkohol en/of dwelms.
Misdrywe wat afgeneem was seksuele misdrywe, aanranding, inbrake by residensiële persele, kommersiële misdaad en winkeldiefstal.
De Rust
Dit blyk dat dwelmverwante misdrywe tans De Rust se grootste probleem is met ’n toename van meer as 50% sedert verlede jaar. Ander misdrywe wat toegeneem het, maar nie drasties nie, was roof en saakbeskadiging.
Daar was ’n beduidende afname in kontakmisdade (moord, poging tot moord, seksuele misdrywe, ens.) wat met 64% gedaal het. Daar was ook ’n afname in diefstalverwante misdrywe.
Dysselsdorp
Kontakmisdade (moord, poging tot moord, seksuele misdrywe, ens.) is volgens die statistiek die hoogste sedert 2021 en het sedert verlede jaar met 22,8% toegeneem. Ander misdrywe wat toegeneem het, maar nie drasties nie, was verkragting, seksuele aanranding, roof en diefstal by nie residensiële persele, veediefstal, en dwelmverwante misdrywe.
Ladismith
Kontakmisdrywe en diefstalverwante misdrywe is die meeste in Ladismith gerapporteer. Daar was ’n sterk toename in aanranding met die opset om ernstig te beseer. Ander kontakmisdrywe wat gestyg het was moord, poging tot moord, roof en roof met verswarende omstandighede. Brandstigting en saakbeskadiging het ook meer geword, sowel as inbrake by nie-residensiële persele.
Seksuele misdrywe en dwelmverwante misdrywe het heelwat afgeneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’