OUDTSHOORN NUUS - Familie en vriende van wyle Eddie Gertse (27) wat op 3 Desember 2023 met ’n bottelnek gesteek is deur Juhandre Goliath (33) na ’n onderonsie het Maandagoggend, 1 Desember, ’n vreedsame optog voor Oudtshoorn-landdroshof gehou in protes teen die borgtogaansoek van Goliath.
In gesprek met Jacqueline Gertse, moeder van die oorledene is die tweede borgtogaansoek wat Goliath voor die hof gebring het.
“Ons soek geregtigheid, my seun is nou al twee jaar van ons ontneem en die verdagte is nog verhoorafwagtend.
Ons staan die borg teen en soek geregtigheid vir Eddie se wrede en onsinnige moord.”
Goliath is in hegtenis geneem vir die moord. Hy het ook op 13 Desember 2024 onsuksesvol vir borgtog aansoek gedoen.
Die moord op die jong Dysselsdorper het nie slegs die familie geruk nie, maar ook die gemeenskap. Destyds is berig dat Gertse nie ’n moeilikheidmaker of slegte mens was nie. Die familie is sedert die moord dit eens dat hy nie verdien het om so dood te gaan nie, en ook kort voor Kersfees met kinders wat sonder hul pa moes voortgaan.
Die familie waaronder sy ouers, drie susters, ’n broer en twee kinders het nog nie vrede gemaak met die moord nie en het aan Oudtshoorn Courant genoem dat hul hoop dat geregtigheid nou kan seëvier.
Goliath se borgtogaansoek was onsuksesvol.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’