OUDTSHOORN NUUS - Terwyl die sluiting van Meiringspoort 'n reuseterugslag vir besighede in De Rust is, skep dit weer geleenthede vir natuurliefhebbers en stappers.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die poort op Sondag 19 Julie, is verskeie stapgroepe aangetref wat hul voertuie aan die begin van die poort laat en dan deur die poort stap.
Hoewel die poort vir deurgangverkeer gesluit is, is die eerste gedeelte tydelik tot so 'n mate herstel dat besoekers Meijers Rust kan bereik.
Meer as 30 stappers van alle ouderdomme en selfs 'n hond en fietsryers is Sondag in die poort aangetref. Een van die groepe kom van Mosselbaai.
"Ons is gewoond om deur die poort te ry sonder om ordentlik te kan kyk. Nou kan ons rustig stap en werklik die natuur geniet," het een van die tappers gesê. Van die ander stappers was van Oudtshoorn en George.
Talle van die besoekers het hul voertuie in De Rust gelaat en van daar af gestap.
Volgens een van die besigheidseienaars is hulle uiters dankbaar dat mense die poort oor naweke besoek.
"My besigheid is met byna 80% af vandat die poort gesluit is, maar nou is daar darem mense wat naweke hierheen kom om te stap, en elke bietjie help," het hy gesê.
Volgens een van die inwoners sal hy mense nie aanraai om deur die week in die poort te stap nie, aangesien opruiming en herstelwerk dan volstoom aan die gang is. "Hier is dan vragmotors en werksvoertuie wat heen en weer ry, wat dit nie vir stappers veilig sal maak nie."
Volledige herstelwerk aan die poort beloop ongeveer R421 miljoen en gaan ongeveer 26 maande duur, maar volgens die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, word daar hard gewerk om die poort teen Desember tot so 'n mate te herstel dat verkeer met behulp van verkeersbeheerpunte weer toegelaat kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’