OUDTSHOORN NUUS - Die Klein-Karoo-voetslaanklub het onlangs 'n dagstap deur Meiringspoort onderneem om die omvang van die skade wat die onlangse vloede aan die pad en omliggende gebied aangerig het, eerstehands te besigtig.
Die groep het vanaf Meijersrust, naby De Rust, tot by die bekende Meiringspoort-waterval gestap.
Volgens die klub se voorsitter, Danie Steyl, was die uitstappie 'n besonderse ervaring wat die krag van die natuur opnuut beklemtoon het. "Water beskik oor 'n ongelooflike vernietigende krag. Die onlangse swaar reën in groot dele van die Wes- en Suid-Kaap het weereens bewys hoe oorstromings groot bome kan ontwortel en landbougrond en infrastruktuur kan verwoes. Meiringspoort was geen uitsondering nie, met die Grootrivier wat oorstroom het en groot skade aan die pad aangerig het," sê hy.
Steyl sê die idee vir die stap het gespruit uit nuuskierigheid oor die toestand van die poort. "Ons het in Oudtshoorn bymekaargekom en daarna na Meijersrust vertrek, waar ons die res van die groep ontmoet het. Altesaam 25 stappers het aan die uitstappie deelgeneem, waaronder die sesjarige Mila, die jongste deelnemer."
Volgens hom is die pad deur die poort oorwegend gelyk met net 'n geleidelike helling, wat die stap relatief maklik gemaak het.
"Kort ná die wegspring het die groot sandbanke weerskante van die pad ons aan die geweldige massa water herinner wat onlangs deur die poort gestroom het. Soos altyd was dit lekker om saam met stapvriende te kuier, stories uit te ruil en oor vorige staproetes te gesels."
Omvangryke skade sigbaar
Volgens Steyl was die skade oral langs die pad duidelik sigbaar. Groot hoeveelhede grond het langs die pad weggespoel, en op verskeie plekke is gedeeltes van die pad heeltemal vernietig.
"Die rivier het steeds sterk gevloei, en ons moes by sommige driwwe ons skoene uittrek om deur te stap. By een drif, waar die pad heeltemal weggespoel het, moes ons versigtig oor die beskermingsmuur beweeg, terwyl ons op ander plekke kniediep deur die water moes loop. Waar die pad ongeskonde gebly het, het die vloed groot hope sand, klippe en ander opdrifsels agtergelaat.
Steyl sê een van die indrukwekkendste waarnemings was die opdrifsels wat hoog in die bome vasgesit het.
By die laaste drif voor die waterval het ongeveer die helfte van die groep besluit om om te draai, terwyl die res deur die water en oor die sand- en kliphope gestap het om die waterval te besoek.
Volgens Steyl was die uitstappie waarskyn-lik een van die laaste geleenthede om die roete te voet te verken voordat daar met herstelwerk begin word.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’