OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat daar wel iemand verantwoordelik gehou kan word vir die oorsaak van dié gru-vragmotorongeluk op 15 Augustus waartydens 'n graanvragmotor die pad verlaat het en deur twee HOP-huise in Rose Valley geploeg het.
Volgens Tom Terblanche, besturende direkteur van Grain Carriers aan wie die vragmotor behoort het, is daar op kamera vasgevang hoe persone langs die pad klippe na die bestuurder van die vragmotor gegooi het.
Volgens hom is een van die klippe deur die voorruit van die vragmotor en het die vragmotorbestuurder, Sibusiso Hadebe (54), in die gesig getref.
Die slag het hom bewusteloos gelaat waarna hy beheer oor die vragmotor verloor het. Hy het op Saterdag 17 Augustus aan sy beserings beswyk.
Die video is aan die polisie oorhandig.
"Ongelukkig kon ons nie die persoon uitken wat die voorwerp gegooi het nie, maar kon ons wel duidelik sien hy is links. Omdat die voorval in die nagtelike ure gebeur het, is dit moeilik om op die beeldmateriaal uit te maak wie dit is."
Volgens hom verander die inligting heeltemal die verantwoordelikheid teenoor die partye betrokke.
"Ons het beide families wat hul huise verloor het gehelp. Ons het dit uit deernis met die families gedoen sonder om ons skuldig te maak aan enige skade."
Die maatskappy het Hadebe se dood as 'n groot verlies beskryf. Die vragmotor is afgeskryf en het hulle 'n totale verlies aan produk van 2.1 ton verloor wat tydens die ongeluk van die vragmotor afgeval het.
Oudtshoorn-polisie het aan hom bevestig dat die dossier verander is na strafbare manslag.
"Ons hoop van harte dat die persone verantwoordelik vir die ongeluk in hegtenis geneem sal word en dat die klipgooiery op die roete stopgesit sal word."
By navraag oor die kwessie het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Christopher Spies, bevestig dat 'n saak van manslag geopen is na die dood van Hadebe en steeds ondersoek word.
"Die dossier sal na die Nasionale Vervolgings Gesag verwys word na afloop van die afhandeling van die polisie se ondersoek.
Beskadigde eiendom
Twee eiendomme is erg beskadig en onbewoonbaar gelaat na die ongeluk. Buiten die twee huise het die een huiseienaar se motor ook in die slag gebly. Tot op hede blyk dit nie of daar enige herstelwerk begin is aan die twee huise in Riemvasmaak nie.
Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan Oudtshoorn-munisipaliteit gerig om te hoor of die munisipaliteit die families gaan bystaan om die twee huise te herstel.
Die munisipaliteit het as volg gereageer: Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit noem in 'n persverklaring dat die munisipaliteit die impak verstaan wat die ongeluk op die huiseienaars gehad het.
"Dit moet egter beklemtoon word dat die onus op die vragmotormaatskappy val en moet die maatskappy en huiseienaars saamwerk om herstelwerk en vergoeding tussen mekaar uit te klaar. Die munisipaliteit is hier om die gemeenskap, binne ons mandaat te ondersteun en ons moedig die huiseienaars aan om uit te reik na die vragmotormaatskappy."
Vorige artikels
- Vragmotorbestuurder beswyk aan sy besering
- Ondersteuning na gru-ongeluk
- Groot skade in Riemvasmaak na vragmotor ongeluk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’