OUDTSHOORN NUUS - Die kode 14-vragmotor wat skynbaar graan vervoer wat Donderdagaand, 15 Augustus deur twee huise in Riemvasmaak geploeg het is Vrydagoggend, 16 Augustus deur J&B Towning van George verwyder.
Daar is heelwat gesukkel om die wrak uitgesleep te kry waarna die werklike skade aan die huise, asook 'n motor wat langs een van die huis geparkeer was sigbaar was.
Die voertuig is heeltemal afgeskryf.
Die twee huise is ook grotendeels vernietig en twee gesinne sit nou met groot skade en verlies.
Harriet Anthony, Shernin Tiemie en Celeste Alexander is almal dankbaar om te leef. "Ons is geskok, maar die Here het sy hand oor ons gehou dat nie een van ons seergekry het nie."
Hul het wel hul kommer oor die vragmotorbestuurder se beserings uitgespreek. "Ons hoop hy leef."
Harriet Anthony, Shernin Tiemie en Celeste Alexander.
Met die toestand van die vragmotor is dit duidelik dat die bestuurder ernstige beserings opgedoen het. Volgens omstanders is die bestuurder uit die wrak gesny waarna hy na die naaste hospitaal vervoer is. "Mevrou daai man het baie seer gekry," het een omstander aan die koerant genoem.
Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n saak van roekeloos en nalatige bestuur. Dit is tans nog nie bekend wat die ongeluk veroorsaak, asook hoe ernstig die vragmotorbestuurder beseer is nie.
Inligting sal bekend gemaak word soos dit ontvang word, asook volledige berrigewing in volgende week se Oudtshoorn Courant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’