OUDTSHOORN NUUS - Die R5 miljoen wat die Oudtshoorn-munisipaliteit deur die Nasionale Rampbestuursentrum (NDMC) se Munisipale Rampresponstoelaag ontvang het, sal aangewend word om skade wat tydens die storms in Mei vanjaar aan Kerkstraat en St. Johnstraat aangerig is, te herstel.
Oudtshoorn Courant het vroeër vandeesmaand berig dat altesaam R26 miljoen se rampbefondsing aan vyf plaaslike munisipaliteite in die Tuinroete-distrik beskikbaar gestel is.
Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het bevestig dat George, Knysna en Bitou elk R5 miljoen ontvang het, terwyl Kannaland R6 miljoen toegeken is.
Volgens Candice Biscombe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die munisipaliteit verskeie aansoeke ingedien vir herstelwerk aan infrastruktuur wat in die onlangse vloede beskadig is.
“Die NDMC het aanvanklik slegs twee strate, Vredestraat en Bloemstraat, vir befondsing goedgekeur. Aangesien herstelwerk aan dié strate reeds afgehandel is, is ’n projekveranderingsbeheerproses aan die gang om die goedkeuring van die NDMC te verkry om die befondsing vir ander infrastruktuur aan te wend,” sê Biscombe. “Die nuwe projekte wat vir die befondsing geoormerk is, is die Kerkstraat-brug en die St Johnstraat-laagwaterbrug, asook gepaardgaande padherstelwerk.”
Biscombe sê die herstelwerk is egter onderhewig aan die nodige omgewingsgoedkeurings.
Die munisipaliteit het intussen ander laagwaterbrûe met befondsing uit sy eie begroting herstel.
“Goedkeuringsprosesse is aan die gang en sodra die proses afgehandel is, sal die konstruksiewerke begin,” sê Biscombe.
Die projek moet volgens die huidige tydraamwerk op of voor 28 Februarie 2027 voltooi wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’