Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van die vragmotor, Sibusiso Hadebe (54), wat verlede week in twee huise in Riemvasmaak vasgery het, het Saterdag aan sy beserings beswyk. Hy is van KwaZuluNatal.
Dié gru-ongeluk is nog vars in die geheue van inwoners wat geskok is oor die skade nadat die graanvragmotor die pad verlaat en deur twee HOP-huise geploeg het. Die eiendomme is erg beskadig en onbewoonbaar gelaat. Buiten die twee huise het die een huiseienaar se motor ook in die slag gebly.
Hadebe het as vragmotorbestuurder vir Grain Carriers Transportation Service gewerk.
Maatskappy gesels met koerant
Tom Terblanche, besturende direkteur van die vragmotormaatskappy noem aan Oudtshoorn Courant dat dit 'n baie hartseer voorval is, waarop hul tans nie te veel kommentaar kan lewer nie.
"Die ondersoek is op 'n baie sensitiewe punt. Ek kan op hierdie stadium nie veel sê nie. Maar ek kan sê dit was nie 'n normale voertuigongeluk nie. Al ons vragmotors is toegerus met kameras. Beeldmateriaal van die voorval is by die plaaslike polisie en word ondersoek."
Die maatskappy is betrokke by die ondersoek en wag tans op inligting.
"Ons was in kontak met Lauren Jones van die Oudtshoorn-munisipaliteit se behuisingsafdeling. Sy het bevestig dat een gesin in die gemeenskapsaal bly, en die ander egpaar by vriende." Terblanche was in kontak met die een egpaar.
"Ons maatskappy is bereid om hulp aan die gesinne te gee. Ons is opreg jammer oor hul lewens wat op so 'n wyse onderbreek is. Daar is egter prosesse wat moet plaasvind."
2.1 ton veevoer verloor
Veevoer wat op die vragmotor was is volgens Terblanche 'n neweproduk van mielies en behoort geen effek op mense te hê nie.
"Die totale verlies aan produk was 2.1 ton en ons neem aan dat dit tydens die ongeluk van die vragmotor afgeval het."
Lees vorige berigte hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’