OUDTSHOORN NUUS - Dat vanjaar se 500km-donkiekarrit van dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa nie maklik was nie, is 'n feit soos 'n steeks donkie. Was dit nie vir 'n goeie sin vir humor en die ongelooflike ondersteuning van mense wat betrokke was by die rit nie, sou hy dit nie gemaak het nie, sê Doc André, soos hy bekendstaan.
"Die dekselse 'Murphy' het sommer die eerste dag al saam op die donkiekar geklim en ons omtrent elke tweede dag verpes met sy manewales," sê hy.
"As dit nie reën was nie, was dit pap wiele, pap batterye, moedswillige donkies en selfs op die heel laaste dag, 'n sleepwawiel wat afgeval het skaars 'n kilometer voor die einde."
Hattingh en die ondersteuningspan het op 9 April in De Rust in die pad geval en 15 dae en 500km later verlede Vrydag, 24 April, weer in die hoofstraat voor Hotel De Rust stilgehou waar dorpenaars hom ingewag het. 'n Span van ses donkies wat twee-twee op 'n keer getrek het, is gebruik en hulle is elke twee ure geruil. Ongeveer 30km per dag is afgelê en die spoed het afgehang van elke donkie se eie stapspoed.
Vir Hattingh was die hoogtepunte van die rit die ontvangs by Langenhoven Gimnasium en Oudtshoorn Vaardigheid-skool waar leerders en personeel hulle ingewag het en geld geskenk het. Dan was daar natuurlik ook 'n besoek aan 'n kitskoswinkel wat interessant was. "Ons het by Kentucky Fried Chicken ingery met die donkiekar om 'n melkskommel te koop, en ek vermoed dit was dalk 'n wêreld-eerste dat 'n donkiekar by 'n drive-thru inry en uitry met 'n melkskommel," sê Hattingh.
Een van die laagtepunte en die grootste uitdaging was die ysige rit tussen Klaarstroom en Willowmore. Hattingh vertel dat hulle vier dae se ysige weer beleef het en elke oggend ys van die voertuie se voorruite moes verwyder.
Die koue het die donkies skynbaar nie gepla nie. "Die donkies hou klaarblyklik baie van koue weer; ek nie soveel nie, want daar is geen wegkruipplek op 'n donkiekar teen wind en koue nie."
Die hoofdoel van vanjaar se rit, wat bekendstaan as 'Donkeys Delivering Dreams', was om geld in te samel om die kindersaal by die Oudtshoorn-hospitaal op te knap en ook om mediese uitreike na landelike gemeenskappe moontlik te maak.
Ongelukkig was finansiële steun vanjaar nie so goed soos met verlede jaar se rit nie. "Tot en met hede het ons baie swakker gedoen as laasjaar wat fondsinsameling aanbetref, wat baie teleurstellend is. Dit is 'n enorme fisiese uitdaging om 500km met 'n donkiekar te ry om geld in te samel vir ons doelwitte. Ons hou duim vas dat alle uitstaande pledges en beloftes nog nagekom sal word," het Hattingh Maandag gesê.
Nogtans is hy en Pediatric Care uiters dankbaar vir elke bydrae wat hulle ontvang het.
"Daar was soveel mense wat ons ondersteun het en aangemoedig het en vir hulle wil ek opreg dankie sê. Ons het daagliks verskillende vrywilligers gehad wat die twee ondersteuningsvoertuie bestuur het, en verantwoordelik was vir die vervoer en versorging van ons donkiespanne, en altesaam nege inwoners van De Rust was betrokke by die rit self en ook dr. Garth Ryder, ons plaaslike veearts wat na ons donkies se gesondheid omgesien het gedurende en voor die rit. Sonder hulle en al die mense wat vir ons en ons donkies akkommodasie gegee het, kan 'Donkeys Delivering Dreams' nie plaasvind nie."
Vorige artikels:
- Donkiekarrit by halfmerk
- Doc weer 500 km op donkiekar
- Donkies ry vir kinders
- Motorfietse brul vir mediese sorg vir kinders
- 7 000km ten bate van kinders
- Kleine Nahkesha kry wiele
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’