OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-munisipaliteit het Saterdag 10 Januarie 5 000, vyf liter-houers water vanuit Kaapstad ontvang.
Burgemeester, Johan Allers, raadslid Johan Duvenhage en personeel van die munisipaliteit het die ruim skenking ontvang en by die munisipale gebou in Asstraat, Bridgton afgelaai.
Die water is deur Yusuf Rajah en sy span van die Al-Imdaad Foundation, soos ondersteun deur die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, geskenk.
Volgens Christo Vermaak, woordvoerder vir die burgemeester, is die water na skole, kleuterskole en vroeë kinderontwikkelingsentrums, ouer persone, tehuise vir bejaardes en polisiestasies binne Dysselsdorp en De Rust, wat tans onder streng vlak-6 waterbeperkings gebuk gaan en beurtwater in die gesig staar, versprei.
Volgens Allers was dit 'n besondere voorreg om namens Oudtshoorn-munisipaliteit hul opregte dank en waardering uit te spreek.
Die burgemeester, Johan Allers en die span vrywilligers. Foto: Louise Mouton
"Ons gemeenskap gaan tans gebuk onder 'n erge droogte. Water is skaars, en vir baie huishoudings, instellings en kwesbare groepe raak dit elke dag moeiliker om in basiese behoeftes te voorsien. Die skenking is van onskatbare waarde. Ek wil graag my dank betuig aan Yusuf Rajah en sy span van die Al-Imdaad Foundation, soos ondersteun deur die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, vir die skenking van 5 000 vyf-liter houers drinkwater aan Oudtshoorn. Hierdie ruim bydrae bring hoop aan mense wat dit tans broodnodig het."
Hy het ook 'n spesiale woord van dank aan Franzu Badenhorst van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, vir sy toegewyde werk agter die skerms gerig.
Allers het almal betrokke bedank.
"Dankie ook aan elke vrywilliger wat vandag hier is en nog gaan help om die water uit te deel. Dit is mense soos julle wat wys dat ware gemeenskapsgees nie net woorde is nie, maar dade. Julle maak 'n werklike verskil in mense se lewens. Ons is besonder dankbaar dat Yusuf Rajah en die Al-Imdaad Foundation juis hierdie kwesbare mense en noodsaaklike instellings geïdentifiseer het waar die behoefte die grootste is," het Allers bygevoeg.
Vorige berigte:
- Watervlakke daal drasties
- Min water in ODN en De Rust wek kommer
- Waterbronne onder druk
- Warm in die Karoo, waterbronne geraak
- Waterkrisis in Kannaland
- Min reen voorspel watertekort in streek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’