OUDTSHOORN NUUS - Die watersituasie in Oudtshoorn, De Rust, Dysselsdorp en omliggende gebiede het 'n kritieke punt bereik, met die moontlike vroeë instelling van vlak 2-waterbeperkings vir Oudtshoorn en beurtwater wat nou 'n werklikheid begin raak vir De Rust en Dysselsdorp.
Volgens Christo Vermaak, woordvoerder van die burgemeester se kantoor, het die Raubenheimerdam se watervlak sedert die vorige meting op Maandag 29 Desember 2025 met 3,15% gedaal en staan tans op 72%. Hierdie skerp daling het daartoe gelei dat die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit die situasie heroorweeg.
Die direkteur van infrastruktuur en tegniese dienste, Justin Lesch, het Woensdag 7 Januarie bevestig dat gesprekke tans gevoer word om vlak 2-waterbeperkings vroeër in te stel, eerder as om te wag totdat die damvlak tot die voorgeskrewe 65% daal.
"Die tempo waarteen die damvlak daal, is kommerwekkend en noodsaak vroeë ingryping."
Volgens Vermaak behoort daar teen Vrydag duidelikheid te wees oor die instelling van nuwe waterbeperkings.
Buitengewone droogte vererger druk
Burgemeester Johan Allers, het beklemtoon dat die streek tans 'n buitengewone droogte beleef.
"Ons beleef 'n droogte anders as in vorige jare. Die winterreënval het reeds in Junie 2025 opgehou en daar was baie min sneeu om ondergrondse waterbronne aan te vul."
Volgens Allers is die ondergrondse water-bronne wat die Huisrivier, Vermaaksrivier en die Blossoms-watervoorsieningsprojek voed, bykans uitgeput en kan dit nie meer voldoende lewering verseker nie. Lesch het bygevoeg dat die bergstroom wat onder meer die Huisrivier en die Rust en Vrede-waterval voed, tans te swak vloei om aan die wateraanvraag te voldoen.
Beurtwater vir De Rust en Dysselsdorp onder bespreking
In De Rust en Dysselsdorp, waar vlak 6-waterbeperkings reeds van krag is, word die instelling van beurtwater tans ernstig oorweeg. Lesch het bevestig dat hy reeds met munisipale topbestuur en ander rol-spelers in gesprek is hieroor.
Beurtwater sal beteken dat watertoevoer nie deurlopend beskikbaar sal wees nie, maar volgens 'n voorafbepaalde skedule afgeskakel en weer aangeskakel sal word om waterbronne so doeltreffend moontlik te bestuur.
Streng maatreëls bly van krag
Vlak 6-waterbeperkings in De Rust en Dysselsdorp bepaal dat huishoudings hoogstens 50 liter water per persoon per dag mag gebruik, met 'n maksimum van 6 kiloliter per maand.
Die gebruik van munisipale drinkwater vir was van motors, tuinbesproeiing, swembaddens, fonteine, sportvelde, konstruksie- en skoonmaakdoeleindes is streng verbode.
Slegs met vooraf skriftelike toestemming mag plantkwekerye en motorwasserye munisipale drinkwater gebruik, onderhewig aan streng voorwaardes en noodwatertariewe.
Alternatiewe waterbronne moet duidelik as sodanig aangedui word.
Die volgende sal geld vir vlak 2- waterbeperkings
- 'n Daaglikse teiken van 100 liter per persoon per dag.
- Privaat voertuie mag slegs met 'n emmer gewas word.
- Kommersiële motorwasserye slegs met vooraf toestemming.
- Swembaddens mag gevul word, maar moet bedek wees.
- Geen gebruik van fonteine.
- Tuinbesproeiing beperk tot twee dae per week.
- Geen besproeiing van sportvelde met drinkwater.
- Skoonmaak van geplaveide oppervlaktes met drinkwater verbode.
- Skoonmaak van dakke en konstruksie-werk vereis vooraf toestemming.
Allers het inwoners bedank vir hul volgehoue samewerking en 'n ernstige beroep gedoen op die gemeenskap om water spaarsamig, verantwoordelik en oordeelkundig te gebruik.
"Elke druppel tel, en ons samewerking nou sal bepaal hoe ons deur hierdie krisis kom."
Vorige berigte:
- Waterbronne onder druk
- Warm in die Karoo, waterbronne geraak
- Waterkrisis in Kannaland
- Min reen voorspel watertekort in streek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’