OUDTSHOORN NUUS - Met die vlak 1-waterbeperkings wat op 12 Desember deur die raad goedgekeur is, is Oudtshoorn nou een van ongeveer 25 dorpe in die Wes-Kaap waar waterbeperkings ingestel is.
Oudsthoorn-burgemeester Johan Allers het tydens die vergadering gesê dat die damvlakke reeds tot onder 80% gedaal het.
Hy het verduidelik dat die onlangse hitte tot 'n skerp toename in waterverbruik gelei het, wat die implementering van waterbeperkings genoodsaak het. Strenger waterbeperkings sal ingestel word sou damvlakke verder daal.
In die verklaring wat Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, verlede week uitgereik het, sê hy: "Ons kan nie die weer beheer nie, maar ons kan beheer neem oor hoe ons beskikbare waterbronne bestuur. Dit is die verantwoordelikheid van alle munisipaliteite om watervoorraad te bestuur en infrastruktuur te onderhou."
Damvlakke
Stompdrift- en Kammanassiedam
Volgens Charl van der Merwe van die Stompdrift Kammanassie Watergebruikers-vereniging (SKWGV) is die vlakke van Stompdrift en Kammanassie tans onderskeidelik 31% en 47%.
Die twee damme voorsien landbouwater aan boere langs die kanaalstelsel tot net voor Calitzdorp. Volgens Van der Merwe het die damme genoeg water vir die oorblywende beplande loslatings in April en Augustus wanneer die waterjaar sluit. Hy sê die reënval is tot dusver ver onder die gemiddeld, en boere is bekommerd indien dit nie binnekort reën nie.
Raubenheimerdam
Volgens Johan Uys van die waterafdeling van Oudtshoorn is die vlak van die Raubenheimerdam tans onder 80%
(79,76% ). Hy sê die huidige vlak nie 'n krisis nie, maar dit is uiters belangrik dat die watervlak so hoog as moontlik gehou word om 'n kritieke vlak te voorkom. Hy sê weens die hitte is die verdampingsyfers hoog en daar moet in gedagte gehou word dat loslatings uit die dam vir landbou in Desember begin het en tot Februarie duur. Dit sal die damvlak met 10% tot 12% laat daal indien dit nie reën nie. Volgens hom weerspieël die vlak van die dam nie hoe droog dit werklik is nie.
Die opvangsgebied van die Raubenheimerdam het meer reën ontvang as dele weg van die berge af en boere is uiters bekommerd. As reënvalsyfers in die dam se opvangsgebied vergelyk word met verlede jaar is dit duidelik dat waterbesparing nou noodsaaklik is.
Vanjaar was die reënvalsyfer van Julie tot 16 Desember slegs 53 mm teenoor verlede jaar se 215 mm vir dieselfde tydperk.
Waterbeperkings
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, behels dit onder meer die volgende maatreëls:
- Inwoners moet waterverbruik tot nie meer as 150 liter per persoon per dag te beperk.
- Besproeiing van sportvelde en tuine met munisipale drinkwater is slegs toegelaat tussen 06:00 en 09:00 en tussen 17:00 en 20:00, en net op Maandae, Woensdae en Vrydae.
- Handslange of sprinkelstelsels mag gebruik word.
- Die besproeiing van landbougrond, kampe, parke en oop ruimtes met munisipale drinkwater is ten strengste verbode.
- Geen skoonmaak van geplaveide, beton- of geteerde oppervlaktes en strukture met munisipale drinkwater deur middel van 'n tuinslang word toegelaat nie.
- Plantkwekerye en motorwasbesighede mag munisipale drinkwater gebruik, mits beste praktyke vir waterbesparing toegepas word en minstens 50% van die water wat gebruik word, herwin word.
- Die aanvul of vul van privaat swem-baddens met munisipale drinkwater word toegelaat, onderhewig aan die voorwaarde dat swembaddens met 'n nie-deurlaatbare soliede bedekking bedek word wanneer dit nie gebruik word nie, en dat terugspoelwater en reënwater waar moontlik herwin en benut word.
- Eiendomme waar besproeiing met water anders as drinkwater plaasvind, moet duidelik gemerk wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’