LADISMITH NUUS - Kannaland bevind hom onder toenemende druk weens 'n ernstige en verergerende waterkrisis, met damvlakke wat gevaarlik laag daal en gemeenskappe wat reeds die gevolge van beperkte watervoorsiening ervaar.
Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TRDM), het gesê Kannaland se watertoestand is tans 'n ernstige bron van kommer. Volgens hom is die Jan F le Grange-dam sowel as die Goewermentsdam, wat Ladismith van water voorsien, albei onder 10%.
"Hoewel Ladismith se daaglikse water-behoefte tans deur boorgate voorsien kan word, is vyf van die 11 boorgate nie operasioneel nie en benodig dringende herstelwerk. Die Kannaland-munisipaliteit moet 'n opdatering gee oor die beraamde tyd wat benodig word om hierdie herstelwerk te voltooi," het Otto gesê.
Hy het verder verduidelik dat die Tierkloof-dam die hoofwaterbron vir Zoar is, maar tans onder 30% is. Zoar ervaar tans die ernstigste watertekort in Kannaland.
"Aangesien water nou uit die laer vlakke van die dam, waar die watergehalte swak is onttrek word, sukkel die waterbehandelings-werke om aan die vereiste vraag te voldoen," het Otto gesê.
Volgens hom dra ver onder normale reënval oor die afgelope paar maande, tesame met swak instandhouding van kritieke waterinfrastruktuur, grootliks by tot die huidige waterkrisis.
Otto het bygevoeg dat die TRDM reeds bystand verleen deur die vervoer van water na gemeenskappe in nood, veral in Zoar. "Die distriksmunisipaliteit se rampbestuursentrum het ook die departement van maatskaplike ontwikkeling en NRO's soos Gift of the Givers versoek om hulp te verleen aan inwoners wat dringend water benodig," het hy gesê.
Volgens Otto word water tans hoofsaaklik na Zoar vervoer met een 10 000 liter-vragmotor van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en een 5 000 liter-vragmotor van die distriksmunisipaliteit se brand- en reddingsdienste. Twee bykomende watervragmotors, een van 8 000 liter en een van 6 000 liter, wat deur maatskaplike dienste gereël is, sou vanaf 12 Desember by die vloot aansluit.
Hy het afgesluit deur te sê dat die distrik tans aan 'n waterdienste-meesterplan werk wat op grensoorskrydende grootmaatwaterprojekte sal fokus om watervolhoubaarheid in die streek te bevorder. Sou reënval onder gemiddeld bly, kan die streek se huidige watervoorraad na raming tussen vier en ses maande hou. Indien die situasie verder vererger, sal grondwater die primêre alternatiewe waterbron wees.
'n Navraag is aan Kannaland-munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Terugvoer sal wel aanlyn bygewerk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’