Update
OUDTSHOORN NUUS - Die beskuldigde het hom die oggend na die ongeluk op die ongelukstoneel aan hom voorgestel en gesê dat hy die bestuurder van die voertuig was. Hy het hom toe ook meegedeel dat hy nie alleen in die voertuig was nie.
So het sers. Heine Jullies Donderdagoggend, na 'n ter plaatse ondersoek, in die Oudtshoorn-streekhof getuig in die saak teen Sydney Berry.
Berry was die bestuurder van die motor waarin 'n 18-jarige matriekleerder van Oudtshoorn, Marilize Nortier, die nag van 22 September 2019 in 'n sloot met water langs die grottepad gesterf het.
Sy het volgens 'n nadoodse ondersoek verdrink.
Jullies, wat die Sondagoggend die eerste polisiebeampte op die ongelukstoneel was, het getuig dat hy die oggend net na 08:00 op die ongelukstoneel aangekom en 'n wit BMW-motor skuins op sy dak, en met sy neus in 'n noordelike rigting, in die sloot aangetref het.
Die man wat Berry glo die nag langs die pad opgelaai het en na sy huis vir 'n stort geneem het, Leon Botha, het kort daarna met die beskuldigde daar opgedaag. Berry het homself aan die polisieman voorgestel en hom toe meegedeel dat hy nie alleen in die motor was nie. Volgens Jullies se getuienis het Berry na die motor in die sloot gaan kyk en wou Berry by Jullies weet wie die persoon in die motor is en of die persoon dood is. Volgens hom het Berry gelyk "soos iemand wat 'n spook gesien het".
Hy het geruik na iemand wat die vorige aand gedrink het, maar was nie onvas op sy voete nie en nie sleeptong gepraat nie. Jullies het getuig dat die water in die sloot sowat 30 cm diep was.
Berry, van Groot-Brakrivier, staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en versuim om hulp te verleen op 'n ongelukstoneel en pleit onskuldig. Die saak is vir verdere getuienis deur landdros Vaughn Shone vir twee dae se verdere verhoor tot 17 Augustus uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Berry-verhoor word weereens uitgestel
- Verhoor van Berry weer uitgestel
- Berry vlugtig in die hof
- Nortier-saak uitgestel na 2021 weens COVID-19
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'