OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn AfriForum-tak het die afgelope week skriftelike kommentaar by die Oudtshoorn-munisipaliteit ingedien om beswaar te maak teen die voorgestelde verkoop van 15 erwe wat tans as openbare ruimtes en parke gebruik word.
Die erwe is volgens die munisipaliteit se planne op ’n openbare veiling te koop aangebied.
Volgens AfriForum bots die voorgenome verkoop met die bepalings van die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk (ROR).
Hierdie beleidsraamwerke beoog dat die aantal openbare ruimtes moet toeneem soos wat die bevolking groei en nuwe huishoudings in Oudtshoorn vestig. Die GOP voorspel dat minstens 922 nuwe huishoudings teen 2030 geskep sal word - ’n ontwikkeling wat die vraag na parke en groen ruimtes verder sal verhoog.
“Oop openbare ruimtes is noodsaaklik vir gesonde, inklusiewe en lewensvatbare gemeenskappe,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
“Hierdie areas bevorder fisieke en geestesgesondheid, skep geleenthede vir sosiale integrasie en verhoog die waarde van omliggende eiendomme. Die verlies van sulke ruimtes is onomkeerbaar.”
AfriForum beklemtoon verder dat parke en stedelike groen ruimtes ’n belangrike rol speel in die bevordering van biodiversiteit, die opvang van koolstofdioksied, die versagting van hittegolwe en die ondersteuning van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.
In ’n dorp soos Oudtshoorn, wat in die somer dikwels uiterste hitte ervaar, is die koelte en ekologiese waarde van bestaande parke volgens die organisasie van onskatbare belang.
Erasmus wys ook daarop dat finansiële redes nie as regverdiging kan dien vir die verkoop van hierdie grond nie, aangesien instandhouding deur programme soos Adopt-a-Spot en gemeenskapsbetrokkenheid kosteloos vir die munisipaliteit kan geskied. AfriForum het sedert 2023 die Luscombe-park en sedert 2024 die Middelstraat-park in stand gehou, albei ruimtes wat intussen gewilde ontspanningsplekke vir inwoners geword het.
“Die korttermyn-inkomste wat ’n veiling sou inbring, weeg nie op teen die langtermynverlies van gemeenskapsbates nie,” sê Erasmus.
“Oudtshoorn het meer parke en openbare ruimtes nodig - nie minder nie. Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit om die 15 erwe van die veilingslys te verwyder en dit vir toekomstige geslagte te bewaar.”
Vorige berigte:
- Kommer oor onwettige strukture in begraafplaas
- Onwettige strukture steeds 'n bron van kommer
- Planne vir kindersorgsentrum kry steun
- Alle rolspelers moet om die tafel sit
- Inwoners keelvol vir sosiale probleme in Oudtshoorn
- Wie sit kos op die tafel?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’