OUDTSHOORN NUUS - ’n Opvolgvergadering rakende sosiale probleme in Oudtshoorn onder leiding van Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het op Dinsdag 3 Junie plaasgevind.
Rolspelers van Oudtshoorn-polisie, gemeenskapsdienste, asook geestelike leiers het die vergadering bygewoon om ’n komitee op die been te bring om Oudtshoorn se probleme aan te spreek en werkbare oplossings te vind.
Ongelukkig was verteenwoordigers van onder andere Famsa, Sassa, departement binnelandse sake, Kindersorg, ACVV en die departement van gesondheid nie teenwoordig nie.
Volgens Allers is dit die munisipaliteit se plig om seker te maak dat inwoners bywette nakom. Die groot vraag is egter waar gaan jy met die oortreders heen? Volgens hom is dit waar die komitee en bestaande uit rolspelers hul deel gaan doen.
Tydens die vergadering is verskeie dringende maatskaplike uitdagings geïdentifiseer.
Hierdie uitdagings sluit in:
Misbruik van alkohol en dwelms, kinders op straat, smokkelhuise, spazawinkels, bushokkies wat tans vir kriminele bedrywighede gebruik word, motorwagte, bedelaars in die sentrale sakegebied, skoolafwesigheid onder leerlinge, tienerswangerskappe, seksverwante speletjies onder skoliere, dobbelary op straat, ouers wat hul wetlike pligte versuim, gesinsgeweld, kinders in konflik met die wet, identifisering van grond vir herwinningsaktiwiteite, ’n gebrek aan voldoende ablusiegeriewe in die sentrale sakekern, die afdwing van munisipale bywette, die sigbaarheid van wetstoepassingsbeamptes, gebrekkige kommunikasie tussen rolspelers en die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit.
Daar is ook ’n dringende behoefte aan ’n rehabilitasiesentrum, uitgebreide sport- en ontspanningsfasiliteite, en ’n huis van veiligheid vir kinders wat in kwesbare omstandighede verkeer, geïdentifiseer.
Allers noem dat hy ’n ernstige beroep doen op alle betrokke rolspelers, beide binne en buite die regering om aktief betrokke te raak by die Sosiale Gemeenskapskomitee.
“Ons gemeenskap se sosiale probleme raak elke huishouding direk of indirek. Slegs deur volgehoue samewerking, gesonde gesprekvoering en gesamentlike optrede kan ons ’n blywende verskil maak.”
“Hierdie komitee bied ’n tafel vir oplossings, maar dit kan net doeltreffend wees as elke stoel gevul word deur ’n aktiewe, verantwoordelike deelnemer. Ek nooi instellings, organisasies en individue uit om saam met die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit ’n pad van genesing, hoop en heropbou te stap. Laat ons saamwerk vir ’n veiliger, gesonder en meer inklusiewe gemeenskap vir almal.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’