OUDTSHOORN NUUS - Die oprigting van onwettige strukture op munisipale grond bly 'n ernstige probleem in Oudtshoorn en word toenemend met misdaad verbind.
Op Dinsdag 24 Junie het munisipale kontrakteurs nuwe strukture ontdek wat in digte bosse langs die rivier opgerig is, op grond wat áán die sportveld van Van Reede Skool grens.
Dit volg kort ná AfriForum Oudtshoorn verlede week opgetree het teen onwettige strukture wat in die begraafplaas naby St. Saviourstraat opgerig is, waar grafte oopgebreek en gevandaliseer is.
Volgens Donovan Kleinhans van AfriForum Oudtshoorn is die organisasie op hoogte gebring van die nuwe nedersetting en het lede die terrein op Woensdag 25 Junie besoek. Hulle het self inspeksie gedoen, beeldmateriaal geneem en die owerhede in kennis gestel. Die terrein is intussen deur die munisipaliteit en wetstoepassingsbeamptes skoongemaak.
Kleinhans beskryf die kamp as 'n goed versteekte plakkersnedersetting met verskeie strukture wat al vir 'n geruime tyd daar bestaan. "Die strukture is stewig opgerig op gekompakteerde grond en omring deur doringbome. Daar het groot hoeveelhede vullis en gebrande materiaal rondgelê, insluitend oopgesnyde en verbrande kragkabels. Die kamp was geleë tussen Vrede- en Bloemstraat, direk agter Van Reede Skool se sportveld."
Hy sê daar is onlangs klagtes ontvang dat oortreders die skoolterrein betree en probeer het om sporttoerusting van leerders te steel.
Ronald Presher, onderhoof van Van Reede, sê die voorvalle plaas 'n finansiële las op die skool. "Ons moes ekstra sekuriteit instel om die skool en klubhuis te beskerm, dit is geld wat elders nuttig aangewend kon word."
Kleinhans het ook verwys na 'n hommeltuiginspeksie wat reeds in Februarie deur AfriForum uitgevoer is. Tydens dié nagvlug is geen onwettige strukture in die gebied opgemerk nie, en plaaslike wetstoepassers het bevestig dat geen inwoners destyds daar gewoon het nie. "Die teenwoordigheid van hierdie nedersetting beklemtoon hoe maklik strukture in die digbegroeide rivierbank weggesteek kan word, en hoe belangrik konstante monitering is."
AfriForum sê hulle ondersteun die wettige skoonmaak van die rivierbank ten volle en moedig die hervatting daarvan binne die raamwerk van die nodige permitte aan. "Die toegegroeide gebiede vorm 'n veiligheidsrisiko en ons benodig beter sigbaarheid," sê Kleinhans.
VIDEO:
Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gerig. Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het telefonies bevestig dat die munisipaliteit op 'n latere stadium sal reageer. Kommentaar sal aanlyn bygewerk word sodra dit ontvang is.
Munisipale kommentaar:
Kommentaar deur die Uitvoerende Burgemeester, Groter Oudtshoorn Munisipaliteit – Raadsheer Johan Allers
Ek bevestig dat daar inderdaad strukture opgerig was en dat kragkabels en ander vorme van rommel in die betrokke gebied aangetref is. Ek het self die terrein besoek en daar is onmiddellik opdrag gegee dat die area skoongemaak moet word.
Hierdie proses van opruiming is tans aan die gang en bly ’n deurlopende prioriteit vir die munisipaliteit.
Ek kan verder bevestig dat die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit vanoggend, 2 Julie 2025, ’n konstruktiewe vergadering met AfriForum gehad het, waarin aangeleenthede soos hierdie bespreek is. Hierdie tipe samewerking met burgerlike strukture soos AfriForum word waardeer, aangesien dit bydra tot verhoogde sigbaarheid en veiligheid in ons gemeenskappe.
Die vergadering was deur myself en die Munisipale Bestuurder bygewoon.
Die veiligheid van ons leerders, skole en openbare ruimtes is van uiterste belang en die munisipaliteit sal voortgaan om binne die raamwerk van toepaslike wetgewing op te tree om onwettige nedersettings en risiko’s aan te spreek.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’