OUDTSHOORN NUUS - Die derde maatskaplike gemeenskapskomiteevergadering het verlede Donderdag, 3 Julie, in die ou raadsaal plaasgevind.
Hierdie inisiatief van Oudtshoorn-burgemeester Johan Allers, bring sleutelrolspelers byeen om gesamentlik oplossings vir dringende maatskaplike kwessies in die dorp te vind.
Die komitee bestaan uit twee verteenwoordigers van elke departement en sluit organisasies soos maatskaplike dienste, kinderwelsyn, Famsa, AfriForum, die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantore, en munisipale strukture in.
Straatkinders en haweloses onder die loep
Een van die hoofbesprekingspunte was die toenemende teenwoordigheid van straatkinders in Oudtshoorn. Volgens Kenneth Mazaleni van die departement van maatskaplike dienste, is ongeveer 48 kinders reeds geïdentifiseer. Lêers is vir hulle geopen en daar word met ander rolspelers soos Kinderwelsyn saamgewerk. Volgens hom is daar ook verskeie vergaderings tussen die betrokke partye en die besigheidskamer gehou om die situasie te ondersoek. Hulle het dit egter duidelik gemaak dat hierdie kinders wel huise het en nie straatkinders is nie. Meeste van hulle verkies om op straat te wees.
Daar is klem gelê op die behoefte aan ’n sentrum waar die kinders aan aktiwiteite kan deelneem en ook maklik toegang tot maatskaplike dienste kan kry. Allers het gesê dat hulle na ’n geskikte gebou vir die sentrum soek.
Wetstoepassing en praktiese oplossings
Nog ’n besprekingspunt was wetstoepassing en die afdwing van munisipale ordonnansies. AfriForum het praktiese oplossings gedeel, soos herhaalde aanspreek van oortreders. Hulle het ook onderneem om wetstoepassers by te staan indien nodig. Verskeie deelnemers het ook uitdagings rondom die afdwing van boetes, identifisering van oortreders en opvolg van klagtes bespreek. Daar is ook gevra vir verbeterde samewerking tussen alle wetstoepassingsagentskappe.
Vorige berigte:
- Alle rolspelers moet om die tafel sit
- Inwoners keelvol vir sosiale probleme in Oudtshoorn
- Wie sit kos op die tafel?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’