OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se sosiale en veiligheids-kwessies kan direk voor die deur van die departement maatskaplike ontwikkeling neergelê word. Dit is een van die opinies wat geopper is tydens die "Praat saam met Netwerk24 en Die Burger" gesprek rakende veiligheid en sosiale kwessies in Oudtshoorn.
Die gesprek het Dinsdagoggend, 1 April, in die Netwerk24 Feeskafee plaasgevind en is die gesprek deur Jody Hendricks van RSG-faam tesame met dr. Llewellyn MacMaster, hoof van Cape Crime Crisis Coalition, Gaynor Janeke, opvoedkundige sielkundige en Johan Allers, uitvoerende burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit gelei.
Allers, het daarop klem gelê dat die munisipaliteit tans goeie samewerking van die Suid-Afrikaanse Weermag, asook Oudtshoorn-polisie kry om sosiale kwessies binne die gemeenskap aan te spreek. Allers is egter van mening dat die departement van maatskaplike dienste erg faal in hul taak in die dorp.
"Die enigste oplossing is dat daar in die dorp hande gevat moet word, regdeur van munisipale vlak tot by die plaaslike kerke."
Allers het ook aangekondig dat hy sterk voel dat 'n sosio-maatskaplike komitee in die dorp op die been gebring moet word om sodoende daadwerklik die erge probleme met drank en dwelms in die gemeenskap aan te spreek.
"Ek glo so 'n komitee sal 'n belangrike rol speel om die probleme aan te spreek, politici kan nie die kwessie alleen oplos nie."
Beide MacMaster en Janeke het die fokus geplaas op die enorme probleem rakende drank, dwelms en veral dwelmsindikate en georganiseerde misdaad in die Wes-Kaap.
MacMaster het een vraag gevra wat uitgestaan het, "Wie sit kos op die tafel?" met verwysing hoe vinnig werkloosheid, armoede en maatskaplike kwessies wat mense dwing om vasgevang te raak in die net van verslawing en die gevolge daarvan op 'n gesin, die persoon self, asook 'n gemeenskap het. Bendes neem oor in gemeenskappe waar die regering faal, mense bly stil oor misdaad, want, wie sit kos op die tafel?.
"Dit strek oor 'n hele spektrum, ons sien nie meer die verwaarlosing van ons kinders of die trauma wat dit veroorsaak, raak nie."
Volgens hom is daar ongelooflike onkunde rakende verslawing en is hy van mening dat dit dieselfde aandag moet geniet as enige ander siekte soos MIV/vigs.
Daar word gehoop dat daar nou 'n daadwerklike, gesamentlike gemeenskapsoplossing gevind word vir die sosiale en veiligheidskwessies in Oudtshoorn.
'n Navraag is aan maatskaplike dienste gestuur en die antwoord sal op Oudtshoorn Courant se webtuiste bygewerk word sodra dit ontvang is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’