OUDTSHOORN NUUS - Verskeie veiligheidsvergaderings deur onder meer die munisipaliteit en AfriForum het die laaste paar weke plaasgevind om maatskaplike probleme, soos prostitusie, bosslapers en rommelstrooiers, te bespreek.
Hierdie vergaderings is met groot belangstelling vanuit die publiek bygewoon.
Donovan Kleinhans, van AfriForum, het deur middel van 'n skyfievertoning gewys wat presies die veiligheid- en maatskaplike probleme in die dorp is.
Volgens hom is dit grootliks maatskaplike kwessies soos onwettige skuilings wat deur haweloses in die dorp opgerig word, bome wat onwettig vir brandhout afgekap word, bome wat aan die brand gesteek word en sakkrappers in die woongebiede, straatlopers wat gewoonlik gevang word vir inbrake of pogings tot inbrake, straatkinders en selfaangestelde karwagte wat die dorp oorneem, en 'n nuwe tendens, sekerheidskameras wat by huise in woonbuurte afgesteel word.
Kleinhans meen dat die heraktivering van buurtwagte met gereelde patrollies een van die oplossings is, en het benadruk dat die betrokkenheid van die gemeenskap hier 'n belangrike rol speel omdat vrywilligers vir die patrollies benodig word.
Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het ook 'n vergadering met rolspelers wat die polisie, AfriForum, GPF, gemeenkapsdienste en geestelike leiers insluit gehad.
Daar is tydens die vergadering besluit dat 'n maatskaplike gemeenskapskomitee gestig gaan word waar die probleme in Oudtshoorn ter tafel gelê kan word en werkbare oplossings gevind kan word. Die bestuur sal tydens die volgende vergadering verkies word.
Volgens Allers is dit die munisipaliteit se plig om seker te maak dat inwoners bywette nakom. Die groot vraag is egter waar gaan jy met die oortreders heen? Volgens hom is dit waar die komitee, bestaande uit rolspelers, hul deel gaan doen.
Minister reageer
Jaco Londt, minister van maatskaplike ontwikkeling, het 'n vergadering tussen die Wes-Kaapse departement van sosiale ontwikkeling se plaaslike kantoor en streekbestuur belê.
"Ek was in Oudtshoorn as deel van die premier se fietstoer. Ek het verskeie kwessies, waaronder die probleem met straatkinders bespreek. Ons sal na oplossings kyk en ook waar ons met ander organisasies soos die besigheidsektor kan saamwerk om die department se werk te versterk."
Daar moet kennis geneem word dat daar in sekere gebiede NRO's of NWO's sal wees wat spesifieke maatskaplike dienste soos kinderbeskerming lewer.
Dit is organisasies soos ACVV, en Kinderwelsyn SA, wat befondsing van die departement ontvang en help om die maatskaplike diensvoetspoor te versprei, soos aangewese Kinderbeskermingsorganisasies, veral in landelike gebiede waar beperkte personeelhulpbronne is.
Hulle is dus verantwoordelik om te help met kwessies soos die beveiliging van kwesbare kinders of om in te gryp waar nodig.
Ons bespreek ook die moontlikheid om areas van verantwoordelikheid te herorganiseer om die veiligheidsnet te versterk deur die sterk punte van die departement en vennoot-organisasies te benut.
"In terme van Oudtshoorn het die departement normale maatskaplike prosesse gevolg in terme van die assessering van die kwesbare kinders deur ons kantoor.
Ander gevalle van kinders wat haweloos is, het ons na verantwoordelike organisasies verwys.
Ons wil dit benadruk dat die departement saam met die munisipaliteit, ander regeringsorganisasies soos die polisie, die nie-regerings organisasie sektor en gemeenskappe wil saamwerk om volhoubare oplossings te vind."
Volgens Londt moet alle rolspelers na die tafel kom en saamwerk om sukses te kan behaal.
"Hoewel kinders op straat 'n komplekse verskynsel is, is die departement van sosiale ontwikkeling voortdurend besig met die implementering en evaluering van programme om die behoeftes van kwesbare kinders aan te spreek. Koördinasie en samewerking is die sleutel om die probleem aan te spreek volgens ons mandaat ingevolge die Kinderwet 38 van 2005."
Volgens Londt moet die kwessies rondom prostitusie en onwettige besetting deur die plaaslike munisipaliteit ondersoek word aangesien dit nie onder die departement se mandaat val nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’