Video
OUDTSHOORN NUUS - Ernstige kommer is die afgelope week uitgespreek oor die toename in misdaad en die oprigting van onwettige strukture binne die begraafplaas langs Jubilee Montessori Skool in St. Saviourstraat, Oudtshoorn.
Volgens Donovan Kleinhans van AfriForum is verskeie klagtes deur bekommerde inwoners oor die situasie ingedien, maar daar is tot dusver min tot geen optrede van die betrokke owerhede gesien nie.
"Selfs nuwe skadunetafdakke en duur astroturf, wat spesiaal vir die kinders van die Montessori Skool geïnstalleer is, is opgesny en gesteel," sê Kleinhans.
Volgens die bestuur van die skool word daar slegs buite die skool skade aangerig.
"Ons wil ons opregte dank teenoor AfriForum uitspreek. Hulle het regtig vinnig gereageer en het ons so mooi bygestaan om die probleem uit te sorteer."
Lede van AfriForum se Noord-buurtwag, insluitend buurtwaglid Andrew Kuhn, en raadslede Johan Fourie en Anél Berry, het op Woensdag 18 Junie die begraafplaas besoek.
Hulle was geskok oor die omvang van die verwaarlosing en skade. 'n Versoek om bystand van die munisipale wetstoepassingsdepartement is ook gerig, maar daar was glo geen beskikbare personeel of voertuie om op die klagte te reageer nie.
Grafstene is verwyder en as sitplekke of vuurmaakplek gebruik. Sommige grafte is oopgebreek, vermoedelik vir die diefstal van metaalonderdele of kisdeksels.
Daar is selfs bewerings dat menslike beendere uit grafte verwyder, fyngemaal en gerook word, 'n daad wat as uiters verontrustend en respekloos beskryf word.
"Dis ondenkbaar en absoluut skokkend," het Kleinhans bygevoeg.
Die perseel is uiteindelik opgeruim met die belofte van reiningingsdienste om die vullis wat deur die onwettige slapers agtergelaat is op te ruim. Met Oudtshoorn Courant se besoek Dinsdag 24 Junie was die perseel nog nie skoongemaak nie. Menslike ontlasting en ander gemors het ook rondom die kampie gelê.
Tydens die besoek het die Kleinhans en sy span ook op 'n groep van sowat tien jong seuns afgekom wat met tussen 15 en 20 honde vermoedelik besig was om in die area te jag.
Kleinhans het gesê dat AfriForum bereid is om wetstoepassers te vergesel tydens skoonmaak- en handhawingsaksies, maar dat dit slegs die munisipaliteit is wat die bevoegdheid het om plaaslike verordeninge af te dwing.
"Die oprigting van onwettige strukture en die gebruik van 'n begraafplaas as slaapplek is 'n duidelike oortreding van bestaande munisipale ordonnansies. Hierdie terrein is nie net 'n historiese en kulturele baken nie, maar ook 'n plek van rus en herinnering en verdien beskerming."
VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’