OUDTSHOORN NUUS - Die diabetesgroep van Bridgton-kliniek het die afgelope maand Wêrelddiabetesdag met ’n propvol program en ’n spesiale byeenkoms herdenk.
Sr. Bernadine Booysen, bedryfsbestuurder van Bridgton-kliniek, het haar persoonlike ervaring as iemand wat self met diabetes saamleef met die groep gedeel.
Die gaste het ook waardevolle inligting oor die hantering en bestuur van diabetes ontvang.
Die kliniek bied sedert Maart 2025 twee keer per maand sessies by die Bridgton-biblioteek aan vir mense wat met diabetes leef.
Die program bied aan deelnemers die geleentheid om meer oor hul toestand te leer, gesonder leefstylkeuses te maak en ondersteuning by mekaar en gesondheidsorgpersoneel te kry.
Verskeie rolspelers is by die inisiatief betrokke, waaronder drs. Lisa Wiswe en Anja Nel, asook die fisioterapie- en arbeidsterapiedienste.
Die dieetkundige deel gee ook waardevolle raad oor gesonde eetgewoontes met deelnemers. Families SA (Famsa) se gemeenskapsorgwerkers lewer verder ’n bydrae deur waarneming en ondersteuning te bied.
Vrywilligers van Christian Counselling, wat by elke sessie betrokke is en waardevolle emosionele ondersteuning aan deelnemers bied, het die geleentheid ook ekstra spesiaal gemaak deur die groep tydens die Wêrelddiabetesdag-byeenkoms met ’n heerlike ete te bederf.
Die kliniek bedank graag die Oudtshoorn-munisipaliteit vir die beskikbaarstelling van die Bridgton-biblioteek as lokaal, asook aan al die gesondheidsorgpersoneel, rolspelers en vrywilligers wat hul tyd, kennis en kundigheid tot die sukses van die inisiatief bydra.
’n Nuwe hoofstuk in die nuwe jaar
Die deelnemers wat al die sessies van die program voltooi het, sal in die nuwe jaar as deel van die Bridgton Diabetic WOW Group voortgaan.
Dié ondersteuningsgroep sal aan hulle die geleentheid bied om hul kennis verder uit te brei, mekaar te motiveer en hul gesondheidspad saam voort te sit.
’n Nuwe groep deelnemers sal ook in die nuwe jaar met die program begin.
Belangstellendes wat meer oor die program wil uitvind of graag wil deelneem, kan die Bridgton-kliniek by 044 272 2106 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’