OUDTSHOORN NUUS - Die amptelike opening van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) se Eden-straatmylreeks is verlede Woensdagaand, 18 November, by die Suzuki-agentskap in Oudtshoorn gehou.
Die gewilde Straatmyl is in 1987 in Hartenbos gebore en het sedertdien uitgebrei tot ’n reeks van drie wedlope. Die eerste een vind op 14 Desember in George plaas.
Dit word op 16 Desember deur die Straatmyl in Oudtshoorn gevolg, met die laaste een in Hartenbos op 18 Desember.
Die Straatmylreeks lok atlete van verskillende ouderdomsgroepe van regoor die land.
Jong altlete vanaf nege jaar kan deelneem. Hans van der Veen, voorsitter van KKAF, het ’n kort oorsig van die ontstaan en ontwikkeling van die Straatmylreeks gegee en Dave van der Walt bedank vir sy jare lange bydrae tot die Straatmylreeks en atletiek op verskeie vlakke.
Die Straatmylreeks is amptelik deur Desmond Speelman, voorsitter van die Eden Sportraad, geopen. Speelman het gesê die rol van KKAF en die Eden-straatmyl in die lewens van jong atlete kan nie genoeg beklemtoon word nie.
“Vir my is die Straatmyl meer as bloot ’n wedloop, dit is ’n geleentheid om gemeenskappe deur middel van sport bymekaar te kry en jong talent te ontwikkel.”
Dirk Kotze, burgemeester van Mosselbaai, was ook teenwoordig. Tydens sy spreekbeurt het hy die bestuur van KKAF geloof vir die sukses en volhoubaarheid van die sSraatmylreeks.
“Kusmatige intelligensie raak belangrik, maar ons moet onthou dat dinge gebeur as gevolg van mense. Mense is verantwoordelik vir geleenthede soos hierdie en Mosselbaai is trots om vir die afgelope 39 jaar deel te wees van die Straatmyl.”
Hy het uitgebrei oor die enorme waarde wat sport en sporttoerisme tot dorpe byvoeg. Volgens hom dra sportgeleenthede nie slegs by tot die ontwikkeling en samehorigheid onder gemeenskappe nie, maar het ook groot finansiële voordele vir die drie dorpe. (George en Oudtshoorn se burgemeesters was teen verlede Woensdag nog nie aangewys nie, en kon nie die geleentheid bywoon nie.)
Een van Oudtshoorn se jong SWD-atlete, Francois Maquassa, het vertel watter groot bydrae KKAF en die Straatmyl tot sy atletiekloopbaan gemaak het. “Ek was in 2013 nog op skool toe ek deur KKAF raakgesien en afgerig is.
As dit nie vir hulle was nie, sal atlete uit ons gemeenskappe nie so vroeg raakgesien word en geleenthede kry nie. Ek is baie dankbaar vir wat hulle gedoen het om my te help tot waar ek nou is en waarheen ek op pad is.”
Van die ander sprekers wat opgetree het en hul verbintenis tot die Straatmyl-reeks bevestig het, was Radie Loubser, handelaarshoof van Suzuki op Oudtshoorn, Ruan Meyer van Noordwes-Universiteit, Karen Phipson van die ATKV, David McKinnon van SWD Atletiek en Jean Neethling van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport.
Dié departement dra jaarliks bykans R9 miljoen by ter ondersteuning van verskillende sport- en kultuurgeleenthede in die Suid-Kaap, sowel as 36 sportfederasies in die streek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’