TUINROETE | KAROO NUUS - Dis somer, dis vakansie en almal wil buite wees. Maar te lank onder die geniepsige strale van die son, kan ernstige nagevolge inhou en jou vakansie ruïneer.
Voorkom sonbrand so:
• Bly tussen 10:00 en 15:00 sover moontlik uit die son. Onthou dat jy selfs op ’n bewolkte dag kan brand;
• Smeer ’n waterbestande sonroom met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van 15 of meer aan wanneer jy buite is;
• Wend sonroom minstens 30 minute voor jy in die son kom aan en smeer elke paar ure en na jy geswem het weer aan;
• Pasop vir weerkaatsende oppervlakke, soos water, gras, sement en witgeverfde oppervlakke;
• Beskerm jou lippe, oë en kop. Dra ‘n sonbril met goeie UV-beskerming en ‘n diggeweefde breërand-sonhoed;
• Kies swemklere en 'n sonsambreel wat UV-beskerming bied.
Kinders en die son
• Indien jou kind in sy kinderjare ’n paar keer ernstig sonbrand, verhoog dit sy risiko om as volwassene velkanker te kry;
• Hou hulle sover moontlik weg uit direkte sonlig en maak seker hulle dra sonroom wanneer hulle buite is;
• Babas behoort glad nie aan direkte sonlig blootgestel te word nie.
Eina, ek het gebrand!
• Neem ‘n koel stort of bad;
• Drink genoeg vloeistof om te keer dat jy ontwater. Vermy alkohol, omdat dit jou verder laat ontwater;
• Smeer ‘n vogroom of spesiale room vir songebrande vel aan om die pyn en jeukerigheid te verlig. Maak seker jy volg die instruksies oor hoe om dit te gebruik;
• ‘n Ligte pynstiller soos parasetamol of aspirien sal help om die pyn te verlig;
• Indien blase vorm of jy koorsig word, of as ‘n kind ernstig in die son gebrand het, is dit nodig om mediese hulp te kry.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'