PRINS ALBERT-NUUS - Die Prins Albert-skouterrein was die afgelope naweek die bedrywigste deel van die dorp met die aanbied van die jaarlikse landbouskou.
Volgens Martin Koorts, wat vir die vierde jaar as president van die skou aan die stuur staan, word die skou reeds die afgelope 59 jaar deur die Prins Albert-landbougenootskap aangebied.
"Die skou se hoofdoel is om te dien as vertoonvenster van landbou in ons area en ook om mense buite landbou in te lig en in aanraking te bring met landbou," sê hy.
Hy verduidelik dat dit 'n egte Karoo-skou is met 'n sterk kleinvee komponent. Tydens die skou word daar jaarliks 'n vetveeveiling gehou sowel as 'n merino- en boerbokkampioenskap, angora kuddekompetisie en 'n skeer- en wolhanteringskompetisie.
Die hoof boerderyaktiwiteite rondom Prins Albert wentel om kleinvee, veselpruduksie, saadproduksie en vrugte. Agri Expo, wat as vennoot by landbou-skoue betrokke is, is volgens Koorts die behoud van plattelandse lanbouskoue.
"Agri Expo is daar om ons elke jaar te kalibreer, te help verbeter en ons voortbestaan te verseker."
Die Prins Albert-landbougenootskap het tans 60 lede uit 'n radius van ongeveer 60 km rondom Prins Albert. Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, toerisme en ekonomiese ontwikkeling, het die skou Donderdagaand, 16 Oktober, amptelik geopen.
Hy het benadruk dat landbouers die ruggraat van die land is en die uitdagings genoem wat boere in die gesig staar om, as 'n baie klein deel van die bevolking, genoeg voedsel vir die hele land te produseer.
Hy het benadruk dat Suid-Afrika se landbouprodukte wêreldwyd as toppro-dukte erken word en dat daar ondanks die tariewe wat deur Amerika gehef word steeds 'n reuse-uitvoermark is wat gebruik moet word.
Skape wat aan die merino-kampioenskap deelneem. Foto: Hannes Visser
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’