Update
OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat een van die persone wat deur die polisie gesoek word vir inligting oor die Preston Titus moordsaak, Masimthembe (MJ) January, se voorneme om hom verlede week aan die polisie oor te gee intussen verander het.
MJ het verlede Woensdag uit die bloute by die Oudtshoorn Courant se kantore opgedaag.
Volgens hom was hy op pad om homself by die polisie aan te meld. maar hy wou eers sy kant van die storie aan die koerant vertel.
January sê hy is bewus van die beweringe dat hy Justice Mooi en Vusumsi, die twee beweerde huurmoordenaars, aan Magdaleen Titus voorgestel het, maar ontken dit.
Volgens hom was hy en Titus vir ongeveer 'n maand in 'n verhouding en sy en Sixabiso Klip het hom verlede jaar November na 'n kerkdiens in Port Elizabeth vergesel.
Hy beweer dat Titus en Mooi mekaar toevallig in 'n kroeg in Port Elizabeth ontmoet het en dat hy hulle net as kennisse voorgestel het.
Volgens hom het Titus en Mooi in die kroeg oor politiek begin gesels waarna hy nie wou luister nie.
"Ek het regtig nie geweet hulle het op daardie stadium oor haar man se moord gepraat nie."
Volgens hom het hy eers met hul terugkeer na Oudtshoorn van die planne bewus geraak.
"Klip het na my toe gekom en vir my gesê dat hy regtig nie weet wat om te doen nie, maar Maggie het vir hom gesê dat sy met Mooi gepraat het oor 'n plan om haar man te vermoor.
"Ek het vir hom gesê dat ek niks daarmee te doen wou hê nie."
Hy het verder in sy gesprek verduidelik dat hy die dag wat die moord op Preston gepleeg is vir 'n kerkdiens in Beaufort-Wes was.
"Ek was nie in Oudtshoorn daardie dag nie. Maggie het my heeltyd gebel. Ek het eers later al die boodskappe gesien. Sy het gevra dat ek by haar moet staan en om nie te sê wat ek van die moord weet nie.
"Sy het my gedreig en gesê sy ken ANC-mense in hoë plekke en ek sal spyt wees as ek enigiets daaroor sê. Ek het uit vrees vir my lewe niks gesê nie en gevlug."
Volgens hom het hy uit vrees in Mpumalanga gaan wegkruip en eers gedurende Januarie na Grahamstad teruggekeer.
Dit blyk dat MJ met die polisie ooreengekom het om homself verlede Vrydag aan die polisie oor te gee.
Die Oudtshoorn Courant het na afloop van die besoek die polisie verwittig dat MJ in die dorp is.
Die Oudtshoorn Courant het verlede Donderdagoggend besluit om nie oor MJ se besoek en sy weergawe te berig nie uit vrees dat dit die ondersoek kan benadeel.
Verskeie mense uit die gemeenskap en ANC-geledere het Donderdagmiddag egter laat blyk dat hulle gehoor het MJ was by die koerant.
Intussen is MJ sover vasgestel kan word, skoonveld.
Na 'n navraag Maandag aan kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, oor of daar 'n lasbrief vir MJ se arrestasie uitgereik is en of hy steeds 'n verdagte in die saak is het Pojie Woensdag gesê dat MJ wel 'n persoon van belang in die saak is, maar kan hy nie op die stadium sê of daar al 'n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik is nie.
Lees verwante artikels:
- Preston Titus met 3rde poging vermoor
- Vermeende baasbrein hoop op borgtog
- Borgtogaansoek teen Mooi uitgestel
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Verdagtes bly in aanhouding
- Weermagmoord: Verdagtes in hof
- Magdaleen Titus arriveer op Oudtshoorn
- Weermagmoord: Magdaleen Ttius aangekeer
- Verdagte in weermagmoord gevonnis
- Weermagmoord-opvolg
- Borgtog aansoek weer uitgestel
- 2 moordverdagtes in hof
- 2de moordverdagte in hof
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Nog een in hegtenis
- Weermagmoord: Optog buite hof
- Verdagte in weermagmoord in hof
- Vermoorde soldaat gehuldig
- 2 in Hegtenis vir moord
- Man en vrou gearresteer in Titus-moord
- ANC-Raadslid tans nie in hegtenis
- Geen arrestasie na moord
- Eggenoot van raadslid sterf
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'