Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die 41-jarige Mlandeli Nyuka, voormalige onderburgemeester van Oudtshoorn, wat van seksuele aanranding aangekla word, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof, na twee dae se verhoor tot 27 November uitgestel nadat die staat sy saak gesluit het.
Nyuka word daarvan aangekla dat hy op 27 September 2022 sy persoonlike sekretaresse in sy kantoor betas het, nadat hy die deure gesluit en haar die pos van kantoorbestuurder aangebied het.
Die klaer het getuig dat Nyuka haar die betrokke oggend na sy kantoor ontbied het om glo oor partysake te praat.
Hy het volgens haar sekuriteitsbeamptes by die ingang na die burgersentrum opdrag gegee om niemand na sy kantoor te stuur nie.
Die klaer het voorts getuig dat sy Nyuka vertrou het omdat hulle aan dieselfde politieke party behoort het en sy hom in haar eie woorde, "strykdeur ondersteun het". Daar was dus geen kwade gevoelens tussen hulle nie.
Sy het getuig dat sy angstig geword het toe sy sien dat hy sy hande met sanitizer spuit, dit vryf en daaraan ruik. Daarna het hy skielik haar rok opgetel en haar betas.
"Ek het hom weggestoot en weggekom toe die telefoon in my kantoor gelui en hy dit gaan antwoord het."
Sy het in haar haas haar handsak vergeet en die trappe afgehardloop.
Volgens haar het sy erg gebewe en vir 'n rukkie buite die burgersentrum gaan staan voordat sy huis toe gestap het.
Sy het op 'n vraag van Nyuka se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, waarom sy nie geskree het toe hy die deure gesluit het nie, gesê dat sy hom vertrou het en daar geen kwade gevoelens tussen hulle was nie.
Die beskuldigde het haar glo ook uit die tronk gebel om verskoning te vra vir wat hy gedoen het.
Volgens Carelse sal Nyuka getuig dat daar wel probleme tussen hulle was en dit die rede is waarom sy die saak teen hom gemaak het.
Nyuka sal getuig dat sy hom om geld kom vra het omdat haar krag geblokkeer was en die party iemand anders as kantoorbestuurder wou aanstel. Hy het haar gehelp en ook al haar salaris van R3 500 uit sy sak betaal.
Hy sal ook getuig dat sy op 'n keer aan selfmoord gedink het. Hierop het sy geantwoord dat sy nie so siek soos hy is nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en Mervan Saaiman verskyn vir die staat.
Nyuka is sedert September verlede jaar in aanhouding.
Vorige artikels:
- Nyuka ongelukkig oor streekhofdatum sloer
- Hendricks weer waarnemend
- Nyuka se saak weer uitgestel
- Mlandeli Nyuka bedank uit onderburgemeesterspos
- Nyuka-hofsaak bly brandpunt - ondersoek word geëis
- Saamstaan onttrek uit koalisie
- Herron: 'DA puts power before accountability'
- Raadslid Nyuka word borgtog geweier
- Onderburgemeester Nyuka steeds in aanhouding
- Burgemeester besorg oor ‘kwelpunte’ in voorbladberig
- Onderburgemeester Nyuka in tronk
- Burgemeester bewus van klagtes teen onderburgemeester Nyuka
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’