Update
OUDTSHOORN NUUS - Die tonge klap woes in die groter Oudtshoorn-distrik nadat onder-burgemeester Mlandeli Nyuka (Suid-Kaap Saamstaan) verlede Sondag in hegtenis geneem is weens kriminele oortredings wat hy glo verlede week gepleeg het.
Hy het die volgende dag in die Oudtshoorn-streekhof sonder 'n regsverteenwoordiger verskyn en sal in aanhouding bly tot Donderdag 6 Oktober (vandag) vir 'n borgtogsaansoek.
Weens die aard van die klagtes mag dit nie aan die publiek bekendgemaak word nie.
Nyuka (40) is 'n lid van die beherende DA-alliansie in die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Oudtshoorn Courant het twee weke gelede berig dat die ANC in Kannaland die einste Nyuka glo met R30 000 probeer omkoop het om sy rug op die beherende DA-alliansie te draai.
Volgens 'n verklaring van Suid-Kaap Saamstaan (volgens Nyuka 'n faksie)distansieer die party hom van enige optrede van die omstrede onderburgemeester.
"Hy, (Nyuka) is sedert 6 April vanjaar nie meer lid van die party nie na sy lidmaatskap beëindig is na 'n dissiplinêre verhoor waar hy skuldig bevind is. Sy huidige dilemma is maar net die vrugte wat hy pluk van die keuse wat hy gemaak het toe hy besluit het om sy rug op die party en sy kiesers te draai deur sy bedrieglike optrede wat hy tans voortsit. Sy eie makkers met wie hy saamloop, byt hom nou van agter - so wat die party betref, moet hy maar sien en kom klaar. Die party kan ook bevestig dat daar tans swendelaars is wat hulself op sosiale media voordoen as lede van die party. Hulle is egter onbekend aan die partybestuur," lui die verklaring.
Die ANC-alliansie het op sy beurt gesê dat Nyuka na hulle mening onmiddellik moet bedank. Cameron Dugmore, parlementêre lid van die ANC, het gesê dat die gereg sy gang moet gaan.
"Raadslid Nyuka het geen integriteit nie. Hy het reeds in die verlede sy eie huidige vennote en daarna ons alliansie-vennote beskuldig van omkopery sonder bewyse. Daarvolgens doen ons 'n beroep op die DA om hom summier te verwyder uit sy pos ten minste totdat die saak afgehandel is."
Chris Macpherson
Intussen bespiegel Jan Alleman wyd en syd oor wat die politieke arena vir Oudtshoorn en die onmiddellike toekoms inhou.
Omdat die Oudtshoorn-raadsaal se setelverdeling op 'n mespunt vir mag gebalanseer is (DA-alliansie 13 setels teenoor 12 van die ANC-alliansie), kan twee scenario's uitspeel.
Indien Nyuka tot direkte gevangenisstraf vir sy huidige kriminele klagte (daar is glo meer as een hangend) gevonnis word, kan sy plaasvervanger weereens die onderburgemeesterstoel inneem, wat sal beteken dat die status quo dieselfde bly. Die ANC mag ook bloed ruik en selfs die nuwe inkomende raadslid wat Nyuka vervang, die burgemeesterspos aanbied wat die magsbalans weer na die ANC sal swaai. Alles hang natuurlik af vir watter alliansie die inkomende Suid-Kaap Saamstaan-raadslid goedgesind is, of watter werkooreenkoms dié raadslid die beste sal pas.
Dit moet ook genoem word dat Nyuka na afloop van verlede November se verkiesing hom aanvanklik by die
ANC-alliansie geskaar het voordat ver-houdinge vanjaar versuur het en hy na die DA-alliansie oorgeloop het.
In reaksie op die politieke onrus wat tans op die dorp heers, het burgemeester Chris Macpherson by navraag bevestig dat die munisipaliteit slegs 'n interne ondersoek van stapel kan stuur wanneer 'n klag by die munisipale bestuurder ingedien word.
Tot op hede is geen klagte wat die onderburgemeester betrek, by die kantoor van die munisipale bestuurder of by die uitvoerende burgemeester ingedien nie.
Teen hierdie agtergrond het die munisipale bestuurder dus geen gronde om 'n ondersoek te loods nie.
"'n Klag word tans deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek en die munisipaliteit het nie insae in die inhoud en omvang van die klag nie. Soos met enige ander aangeleentheid, gee die munisipaliteit sy volle ondersteuning en samewerking aan die SAPD.
"Wat die raadslidposisie van die beskuldigde betref, is dit belangrik om te weet dat 'n raadslid slegs die pos as raadslid verbeur indien die persoon op 'n kriminele aanklag skuldig bevind word en tot direkte gevangenisstraf van minstens twee jaar gevonnis word, sonder die keuse van 'n boete of as die persoon deur sy party geskors word. Met die verloop van die ondersoek gaan die onderburgemeester voort as raadslid en as onderburgemeester. Hy is ook steeds die president van sy politieke party, Suid-Kaap Saamstaan," het Macpherson gesê.
Vorige artikel: Burgemeester bewus van klagtes teen onderburgemeester Nyuka
Cameron Dugmore
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'