Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong man van Volmoed wat 'n man met 'n mes probeer steek en daarna met 'n klip teen die kop gegooi het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind. Dillon Bruintjies (21) het ook tereggestaan op aanklag van poging tot moord op die klaer, Freek Krige.
Bruintjies het erken dat hy twee keer na Krige gesteek het, maar hom nie getref het nie. Hy was kwaad vir Krige oor 'n insident wat die vorige naweek tussen hulle plaasgevind het. Toe Krige weghardloop het hy hom met 'n klip, so groot soos 'n tennisbal, teen die kop gegooi.
Streeklanddros Retha Pretorius het bevind dat hoewel dit twee aksies was, Bruintjies een doel gehad het naamlik om Krige seer te maak. Krige kon gesterf het van die hou aan die kant van sy kop.
Die hof het in ag geneem dat hy skuldig gepleit het en die twee van hulle vrede gemaak het.
Bruintjies is 'n boete van R1 000, wat hy in drie maande kan afbetaal, of 12 maande gevangenisstraf opgelê asook 'n 24 maande gevangenisstraf wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Lees 'n vorige artikel: Hof straf klipgooier
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'