OUDTSHOORN NUUS - Die politieke spanning in die Oudtshoorn-munisipaliteit het Dinsdag 4 Augustus verder toegeneem nadat 'n mosie van wantroue teen die speaker, Suzane Jansen (PA), met 13 stemme aanvaar is.
Dié raadsvergadering gaan vandag, 6 Augustus voort na hy Dinsdagaand uitgestel is.
Die virtuele vergadering het sowat 'n uur later as beplan begin. Opposisieraadslede van die DA, VF Plus en Icosa was in die raadsaal byeen, terwyl Jansen en munisipale amptenare hulle elders in die gebou bevind het. Ander raadslede was volgens beskikbare inligting in verskillende kantore.
Nadat verskeie items afgehandel is en die vergadering vir ongeveer 'n uur onderbreek is, is die mosie teen Jansen aangehoor. Raadslid Jan van der Ross het gedurende dié proses as waarnemende speaker opgetree.
Die mosie is deur Vlancio Donson van Icosa ingedien. Die Good-raadslid, Ashwill Oktober, se stem, saam met die van die DA, Vryheidsfront en Icosa het die totaal op 13 te staan gebring en die mosie laat slaag.
Kort nadat die uitslag bekendgemaak is, is die regstreekse uitsending van die vergadering sonder waarskuwing beëindig.
Volgens Chris Macpherson van die DA het die raadslede van die DA, VF Plus en Icosa in die raadsaal agtergebly omdat die vergadering volgens hulle nie amptelik verdaag is nie.
Inligting wat Oudtshoorn Courant ontvang het, dui daarop dat die munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, versoek is om die proses vir die verkiesing van 'n nuwe speaker te fasiliteer, maar dat dit nie gebeur het nie. Die presiese rede hiervoor is egter nog onbekend.
Mosies teen die burgemeester, Zoe Tyatya, en die onderburgemeester, Veronica Michaels, moes daarna nog dien. Die groep van 13 raadslede het later 'n dringende brief aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gestuur. Daarin versoek hulle dat 'n onafhanklike voorsittende beampte aangewys word om die proses te bestuur.
Bredell het die munisipale bestuurder van Kannaland, adv. Dillo Sereo, skriftelik versoek om die verrigtinge waar te neem en die verkiesing van 'n nuwe speaker te fasiliteer. Die vergadering is Dinsdagaand om 18:30 hervat.
Twee ANC-raadslede het hulle ook daar aangemeld, maar die oorblywende 10 raadslede van die ANC, PA, SaamStaan, Advieskantoor was afwesig.
Lede van die media is, soos by vorige vergaderings, toegang tot die raadsaal verleen. Voordat die verrigtinge kon begin, het 'n groep mans egter die openbare galery binnegegaan en geëis dat Sereo die raadsaal verlaat. Hulle het ook teen die glasafskorting tussen die publiek en die raadslede geslaan. Dit is nie duidelik waarom hulle die raadsaal binnegegaan het en in watter hoedanigheid hulle daar was.
Ná 'n kort gesprek tussen Sereo en verskeie raadslede is die vergadering gestaak.
Teen druktyd het Jansen en Yekani nog nie op navrae gereageer oor die rede waarom die vergadering virtueel gehou is, waarom die regstreekse uitsending beëindig is en waarom die proses om 'n nuwe speaker aan te wys nie voortgesit is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’