OUDTSHOORN NUUS - Die vinnige optrede van die plaaslike buurtwag op 23 Julie het gesorg dat die polisie vermeende koperdiewe op heterdaad kon vastrek.
Nadat 'n klagte ontvang is van persone wat by die hangbrug in Kerkstraat besig was om letterlik staal stukkend te kap het die plaaslike buurtwag, sekuriteitsmaatskappye, plaaslike polisie, asook Oudtshoorn-wetstoepassing blitsvinnig gereageer en op die toneel toegesak.
Oudtshoorn gaan 'n geruime tyd gebuk onder persone wat staal en koper steel om te herwin of te verkoop.
"Persone brand die metaal, veral koper-kabels, om die plastiekomhulsels te verwyder. Die koper word daarna aan plaaslike skrootwerwe verkoop, noem Donovan Kleinhans van AfriForum.
By navraag antwoord Maggie Phillips, hoof van Oudtshoorn-wetstoepassing, dat verdagtes in verband met die voorval aangekeer is.
"Aangesien die saak egter steeds aktief ondersoek word, kan geen verdere besonderhede op hierdie stadium bekend-gemaak word nie."
Phillips doen 'n beroep op die gemeenskap met inligting wat die ondersoek kan help om die beheerkamer by 044 203 7800 te skakel.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ao. Chris Spies, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat geen arrestasies deur die polisie gemaak is nie. "Daar is geen saak geopen of arrestasies gemaak nie."
Koperkabels en staalitems is die gewildste teiken van diewe weens hul hoë herver-koopwaarde, terwyl aluminium- en tele-kommunikasiekabels ook dikwels gesteel word. Volgens hom is die ekonomiese impak van kabeldiefstal enorm en raak dit ondernemings, huishoudings, hospitale, skole en vervoerdienste. "Kragonderbrekings ontwrig daaglikse bedrywighede en kan selfs tot sterftes weens elektriese skokke lei."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’