OUDTSHOORN NUUS - Die Retief-familie, wat die afge-lope 26 jaar saam met David en Wilma Pienaar mede-eienaars van Kleinplaas-vakansieoord was, is nou die volle eienaars van die gewilde oord.
Volgens Chris Retief, seun van André en Lienkie, het sy ouers en die Pienaars die onderneming sedert 2000 saam opgebou.
"Wat as 'n gedeelde droom begin het, het oor die jare ontwikkel tot 'n plek waar duisende besoekers onvergeetlike herinneringe gemaak en blywende vriendskappe onder die Karooson gesmee het," sê hy.
Volgens Retief het sy ouers destyds saam met die Pienaars met hart en siel in die ontwikkeling van die oord belê, met die doel om 'n unieke bestemming vir besoekers aan Oudtshoorn te skep.
"Nou, 26 jaar later, het hierdie reis op 'n besonderse manier 'n volle kringloop voltooi. Wat as 'n suksesvolle vennootskap begin het, is nou amptelik 'n honderd persent familieonderneming."
Chris en sy vrou, Nicole, sal voortaan die leisels saam met André en Lienkie hanteer.
"Hierdie oorgang is vir ons 'n besonder betekenisvolle stap. Ons wortels lê diep in die Klein-Karoo, en ons twee kinders, Zoey en Russo, wat tans aan Laerskool Wesbank verbonde is, groei met dieselfde liefde vir die oord op. Hulle verteenwoordig die derde geslag Retiefs wat by Kleinplaas betrokke is."
Hy het die Pienaar-egpaar bedank vir hul jare lange samewerking, vriendskap en toewyding om die onderneming te help vestig en uit te bou.
"Terwyl die Retief-familie nou volle eienaarskap aanvaar, bly ons verbintenis tot Oudtshoorn en ons besoekers onveranderd. Ons wil voortgaan om 'n warm en egte Karoo-bestemming te bied waar families herinneringe kan skep wat 'n leeftyd duur.
"Die hekke van Kleinplaas-vakansieoord staan steeds wyd oop, die toekoms lyk belowend, en ons sien daarna uit om nog baie besoekers te verwelkom."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’