DE RUST NUUS - Die Mal'va De Rust-projek om De Rust in die land se malvahoofstad te omskep gaan oor die bestek van drie jaar ontwikkel word en daarna volgehou en uitgebou word.
Na 'n inligtingsvergadering verlede week, het die Mal'va De Rust-komitee 'n persverklaring uitgereik waarin hierdie reuseprojek landwyd bekendgestel word.
Die eerste groot sigbare stap vind op 10 Augustus plaas wanneer meer as 5 000 malvasteggies oral in De Rust geplant word.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat die internasionaal bekroonde plantekenner en landskapontwerper, Leon Kluge, De Rust besoek het en die projek nie net ondersteun nie, maar ook betrokke is by praktiese aspekte. Kluge het ook die saadjie geplant vir 'n nasionale malvaskou wat volgende jaar vir De Rust beplan word.
Die Mal'va De Rust-projek het nie bloot ten doel om De Rust in 'n lushof van malvas te omskep nie, maar ook om dié dorp 'n gunstelingbestemming op elke reisiger en toeris se agenda te maak.
Die volgende groot geleentheid wat op die plantdag van 10 Augustus volg, is die amptelike bekendstelling van die projek is op 25 September gedurende Erfenisnaweek. Vir daardie dag word 'n malvakarnaval beplan wat straatoptogte, kunsuitstallings, 'n mark en 'n langtafelgeleentheid insluit.
Een van die meer ambisieuse projekte wat vir later beplan word, is om 'n beeldhouwerk van die grootse malva ter wêreld by die ingang van De Rust op te rig en dit as 'n Guinness-wêreldrekord te laat erken word.
Intussen is die uitdaging om buiten die ongeveer 5 000 malvasteggies wat reeds gekweek is, te begin om nog 20 000 steggies te kweek. Dit is 'n projek waarby die hele gemeenskap van De Rust en Blomnek betrokke kan raak.
Volgens die komitee is Mal'va De Rust nie bloot die plant van plantjies nie, maar ook die plant van 'n idee en 'n droom om die dorp internasionaal bekend te maak.
Besoek gerus www.malvaderust.co.za of stuur 'n e-pos aan [email protected] vir meer inligting oor hierdie besondere projek.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’