Update
OUDTSHOORN NUUS - Marthinus Phillipus Rabie (61), sy vrou, Johanna Marie Elizabeth Rabie (60), en hul maatskappye, Attaqua Development en Gwaing Development, is gister, Woensdag 29 Julie, in die Oudtshoorn-streekhof gevonnis nadat hulle in November verlede jaar op 34 aanklagte van bedrog ter waarde van meer as R3,2 miljoen skuldig bevind is.
Die egpaar is aanvanklik aangekla op 68 aanklagte van bedrog, alternatiewelik korrupsie, maar dit is later tot 34 verminder.
Die saak is vroeër vandeesmaand vir vonnisoplegging tot 29 Julie uitgestel.
Volgens adjudant-offisier Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, was Marthinus Rabie tussen 2005 en 2008 in diens van die departement van landbou in Oudtshoorn, waar hy verantwoordelik was vir die aanstelling en goedkeuring van tenders.
“Die ondersoek het aan die lig gebring dat hy saam met sy vrou deur hul twee beslote korporasies vir konstruksiewerk by die departement getender het. Die beskuldigdes het die kwotasies van ander tenderaars gemanipuleer om hul eie ondernemings gunstiger te laat evalueer, wat ander bieërs benadeel het,” het Hani gesê.
Volgens haar het die ondersoek verder getoon dat die meerderheid van die tenders in die gebied aan die twee beslote korporasies toegeken is.
’n Ondersoek deur die Valke het uiteindelik tot die egpaar se inhegtenisneming en vervolging gelei.
Marthinus en Johanna is elk tot 10 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Attaqua Development CC en Gwaing Development CC, wat albei deur Johanna verteenwoordig is, is elk ’n boete van R500 000 of vyf jaar gevangenisstraf opgelê. Albei vonnisse is vir vyf jaar opgeskort.
Die provinsiale hoof van die Valke in die Wes-Kaap, generaal-majoor Mathipa Makgato, het die vonnis verwelkom.
“Ons bly as wetstoepassers standvastig in ons verbintenis om sake van bedrog te ondersoek en te vervolg, en om integriteit en respek vir die oppergesag van die reg te bevorder,” het hy gesê.
Vorige artikels:
- Egpaar begin getuig in bedrogsaak
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar duur voort
- Hofbevel vir beslaglegging op egpaar se bates
- Egpaar bedrogsaak duur voort
- Bedrogsaak teen egpaar uitgestel na 2017
- Egpaar weer in Junie voor hof
- Egpaar in hof: Bedrog van R2.8 miljoen
- Bedrogsaak van egpaar uitgestel
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar in pylvak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’