OUDTSHOORN NUUS - Die appèlaansoek van die Rabie-egpaar, Marthinus en Johanna, om teen hul skuldigbevinding en vonnis te appelleer is Maandag 3 Augustus in die Oudtshoorn-streekhof van die hand gewys.
Hulle is op 34 aanklagte van bedrog skuldig bevind en elk tien jaar gevangenisstraf opgelê.
Johanna Rabie (60) se twee Beslote Koöperasies, Attakwa en Gwaiing Ontwikkelings is ’n boete van R500 000 of vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Streeklanddros Daniel Boks het het die 34 bedrogklagtes vir vonnis saamgeneem en met vonnisoplegging gesê die hof moet ’n sterk boodskap uitstuur om die beskuldigdes sowel as voornemende bedrieërs af te skrik, en te verhoed dat die gemeenskap die reg in eie hande neem.
Die hof het bevind dat Marthinus Rabie (61), ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse departement van landbou by die Oudtshoorn-proefplaas, sy vrou, sowel as haar twee besighede bevoordeel het tot nadeel van sy werkgewer, die departement van landbou.
Die hof het bevind dat die twee beskuldigdes geen tekens van berou toon nie, en die staat uit meer as R3 miljoen bedrieg het. Die misdade is uit gierigheid en oor ’n lang tydperk gepleeg en die departement van landbou het volgens impakverslae meer as R12 miljoen verloor.
Die egpaar se regsverteenwoordiger, adv. Henry van Breda het na die vonnisoplegging in ’n mondelinge aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat ’n hoër hof tot ’n ander bevinding kan kom.
Volgens hom het die hof in verskeie opsigte fouteer onder meer deur te veel klem te lê op slagofferimpakverslae van beamptes van die departement van landbou.
Daarenteen is min aandag gegee aan die persoonlike omstandighede van die egpaar soos, onder andere, hul hoë ouderdomme.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die aansoek teengestaan en in sy betoogshoofde gesê dat die hof nie met die skuldigbevinding fouteer het of dat die vonnisse te swaar is nie. Hy het verwys na hofsake waarin baie kleiner bedrae as in dié saak ter sprake was en die oortreders baie swaarder vonnisse opgelê is.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê hy staan by sy bevinding van skuldigbevinding.
Oor die vonnis van tien jaar het hy gesê dat die hof nie die slagofferimpakverslae oorbeklemtoon het nie, maar in geheel na die getuienis voor die hof gekyk het.
“Die aanbeveling van die verdediging dat die egpaar geskikte kandidate vir ’n korrektiewe toesigvonnis is, is heeltemal buite die kwessie.”
Volgens hom het die hof reeds agteroor gebuig deur die 34 klagtes vir vonnis saam te neem.
“Die vonnis sou wel skokkend swaar gewees het indien die beskuldigdes ’n vonnis vir elke klagte opgelê sou word.”
“Die vonnis is, gesien in die lig van die erns van die misdade en die manier hoedat dit gepleeg is, glad nie buitensporig swaar nie,” het die landdros gesê.
Die hof het bevind dat geen ander hof tot ’n mindere vonnis sal kom nie en die aansoek geweier.
Die verdediging het na die uitspraak die hof meegedeel dat die Rabie-egpaar ’n aansoek om petisie by die hooggeregshof wil doen asook ’n aansoek om borgtog hangende die uitslag van die appèl.
Vorige artikels:
- Marthinus en Johanna Rabie gevonnis vir tenderbedrog van R3.2 miljoen
- Staat eis 15 jaar vir Rabie-egpaar
- Egpaar begin getuig in bedrogsaak
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar duur voort
- Hofbevel vir beslaglegging op egpaar se bates
- Egpaar bedrogsaak duur voort
- Bedrogsaak teen egpaar uitgestel na 2017
- Egpaar weer in Junie voor hof
- Egpaar in hof: Bedrog van R2.8 miljoen
- Bedrogsaak van egpaar uitgestel
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar in pylvak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’