OUDTSHOORN NUUS - ’n Verdagte persoon het Maandagaand, 3 Augustus, ’n inwoner van ’n aftreeoord in Kerkstraat by die hangbrug probeer roof.
Volgens beskikbare inligting het die verdagte die slagoffer na bewering met ’n skêr gesteek voordat hy van die toneel gevlug het.
Hy is later met behulp van beeldmateriaal uitgeken en in Hoogstraat deur personeel van MSec opgespoor.
Oudtshoorn-polisie is na die toneel ontbied, waarna die verdagte aan die polisie oorhandig is. Met navraag is egter bevind dat die slagoffer nie ’n saak wou open nie.
Volgens inligting vanaf AfriForum-buurtwag is die verdagte ’n gereelde probleem in die sakekern en betrokke by ’n plaaslike bende.
“Die verdagte en een van sy vriende, waarmee gereeld probleme ervaar word, dink hulle is die grootste bendelede in Oudtshoorn en onaantasbaar. Hulle word as gevaarlik beskou.”
Inwoners word gemaan om paraat te wees wanneer hul saans by die Hangbrug stap. Die buurtwag moedig ook inwoners aan om sake aan te meld om sodoende misdaad aan te spreek.
Navraag oor die voorval is aan ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder gerig. “Geen kriminele klag is geopen nie volgens ons rekord nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’