DYSSELSDORP NUUS - 'n Welwillendheidsrit om iemand Sondagaand 'n geleentheid huis toe te gee, het in 'n tragedie geëindig toe Godfrey Jacobs (30), 'n pa van vier en eggenoot van 'n swanger vrou, in 'n botsing dood is. Ses ander mense is in die ongeluk beseer.
Die ongeluk het Sondagaand, 26 Julie, naby Le Roux-stasie tussen 'n Ford Focus en 'n Volkswagen Golf plaasgevind. Daar was altesaam sewe mense in die twee voertuie, drie insittendes in die Golf en vier in die Focus.
Volgens inligting wat bekom is, het die twee voertuie mekaar skynbaar op 'n draai naby Le Roux-stasie getref. Met die aankoms van nooddienspersoneel op die toneel was 'n passasier in die Ford nog in die voertuig en moes bevry word, terwyl die ander drie buite die voertuig was. Hulle is per ambulans na die hospitaal geneem.
Die twee passasiers van die Golf is met ernstige beserings per ambulans hospitaal toe geneem en Jacobs, wat nog in die motor was, is op die toneel dood verklaar.
Godfrey Jacobs oorlede
Jacobs se vrou, Shamiela Marnewick (35), was Sondagaand by hul huis in Dysselsdorp toe sy die boodskap ontvang van die ongeluk. 'n Halfuur later moes sy hoor dat hy oorlede is.
Volgens Marnewick het Jacobs met 'n vriend se Golf gery om 'n vrou huis toe te neem.
"Die man wie se motor dit is, het hom gevra om 'n vriendin tot anderkant De Rust te neem omdat Godfrey 'n rybewys het. Nog 'n vrou en 'n man het saamgery. Hulle was op pad terug Dysselsdorp toe na hulle haar afgelaai het toe die ongeluk gebeur het."
Marnewick sê die eienaar van die Golf het haar gebel om haar van die ongeluk te vertel.
Die Volkswagen Gold waarin Godfrey Jacobs oorlede is. Foto: Verskaf
Die man en Marnewick se neef is dadelik na die toneel, waar hulle op die wrakke van die twee voertuie en talle beseerdes afgekom het.
Haar neef het haar kort daarna laat weet dat Jacobs in die ongeluk oorlede is.
Marnewick sê geen finale reëlings rakende die begrafnis is nog getref nie. "Ons is nou net besig om die tragedie te probeer verwerk en ek kan eers Woensdag my man se liggaam gaan uitken."
Sy en Jacobs is in 2023 getroud en het twee kinders; 'n seuntjie van twee en 'n dogtertjie van ses. Godfrey het ook 'n seun van agt en Shamiela het 'n dogter van 14. Die geboorte van die egpaar se derde kind word oor ongeveer twee maande verwag. Hy laat sy vrou, vier kinders, twee broers, 'n suster en sy ouers, Alpheus en Elizabeth Ngobeni, agter.
Die Ford Focus waarin vier insittendes was. Foto: Verskaf
Getuie deel sy ervaring
Volgens een van die insittendes in die Focus, wat verkies om anoniem te bly, was hulle Sondagaand in Dysselsdorp en het vandaar De Rust toe gery om petrol in te gooi toe die ongeluk gebeur het. Volgens hom het die Golf vanuit De Rust se rigting gery.
"Die Golf het die kant van die Focus getref waar my een vriend gesit het. Hy is ernstig beseer en is nog in die waakeenheid in George-hospitaal. Hy het 'n paar bene in sy liggaam gebreek. Ek het my heup beseer en 'n skaafwond opgedoen. Ek is na die ongeluk Oudtshoorn-hospitaal toe geneem en vandaar oorgeplaas na George. Dinsdag is ek teruggeplaas Oudtshoorn toe en is die aand ontslaan. Die bestuurder het sy been gebreek en die persoon wat langs hom gesit het, was nie ernstig beseer nie."
Polisieverklaring
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word 'n klag van strafbare manslag ondersoek en 'n 36-jarige verdagte is op die toneel op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem en later dieselfde aand vrygelaat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’