CALITZDORP NUUS - Die saak teen 'n man van Calitzdorp wat aangekla word van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, handeldryf en besit of gebruik van dwelms, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir verhoor tot volgende maand uitgestel.
Dirk Matthee (42) staan tereg op twee aanklagte van besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen, tien van besit van ammunisie, en handeldryf in dwelms vir die besit van dagga ter waarde van R277 000 in 2018.
Volgens Matthee se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, sal hy onskuldig pleit op al die aanklagte teen hom. Die saak is al by 'n vorige geleentheid teruggetrek, maar weer op die hofrol geplaas.
Streeklanddros Ntsoki Moni het aan Matthee verduidelik dat hy tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis kan word indien hy skuldig bevind word.
Die saak is vir 'n voorverhoor- konferensie tot 6 Julie uitgestel.
Mathee is op waarskuwing vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'