Update
PRINS ALBERT NUUS - Op die Suid-Afrikaanse rocklegende, Brian Finch, se professionele Facebook-blad gee hy sy werkplek aan as "everywhere".
Ná sy dood aan kanker die afgelope Sondag, sal sy musiek steeds oral voortleef in die nalatenskap van sy CD's en musiekvideo's.
Sy woonplek en basis die afgelope sowat drie dekades was Prins Albert, en sedert hy in 1969 tot die musiekbedryf toegetree het, was hy landwyd bekend vir sy energieke kitaarspel en die onvergeetlike liedjies wat hy geskryf en gesing het.
In dié vyftig jaar het hy dertien plate en CD's gemaak, onder meer Living for Yesterday, In Another World, Never Look Back, Hero of Heroes en Bringing Back the Good Times.
Brian (72), het tot verlede jaar nog volstoom opgetree. Sy weduwee, Marion, wat ook sy bestuurder was, het intussen gesê dat 'n splinternuwe CD, Out of the Blue, binnekort vrygestel word.
Sy het gesê sy het vyftig jaar van haar lewe saam met hom deurgebring, "en ek sal die goeie herinneringe koester – daar is so baie. Dankie vir die man, die musikant, die eggenoot, pa en oupa wat jy was. Jou lewe het daaruit bestaan om vir my te voorsien, en dit het jy deur jou musiek gedoen".
Sy gaan sy sosialemedia-blaaie aktief hou, want ondersteuners van regoor die land wil graag hul herinneringe van hom daar skryf, het sy gesê.
Brian het 'n paar keer in The Showroom-teater in Prins Albert opgetree, en soms ook by private geleenthede en tuiskonserte van vriende op die dorp. Hy en Marion het lank ook 'n eie musiekkuierplek, Mustang Sally, hier bedryf.
Sedert kanker in Mei verlede jaar by Brian gediagnoseer was, het hy operasies en chemoterapie ondergaan.
Talle Suid-Afrikaanse en Namibiese musikante het geldinsamelingskonserte gehou om vir sy behandeling te help betaal.
Brian laat ook twee kinders, Reno en Tanya, en kleinkinders agter
Lees 'n vorige artikel: Brian Finch laat groot leemte
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'