OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Eden Straatmylreeks vind vanjaar weer plaas en word soos in die verlede aangbied deur die KKAF. Die reeks word vanjaar uitgebrei met die byvoeging van die George Straatmyl wat deel vorm van die George Sport & Kultuurfees.
Die reeks skop op 14 Desember af met die George Straatmyl in Yorkstraat, George, gevolg deur die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn gehardloop word en word afgesluit op Hartenbos met die ATKV Straatmyl op 18 Desember in Paardekraalweg.
Tot op datum het heelwat van Suid-Afrika se top atlete aangedui dat hulle aan die reeks kom deelneem.
Die manswedlope beloof vuurwerke wanneer Werner Gouws, ’n belowende junior oor 800m, sy opwagting maak teen gevestigde sterre. Hy sal die stryd aansê teen Thinus Erasmus, wat in 2024 die atletiekwêreld verstom het toe hy ’n tyd van 3:57,7 gehardloop het en die jongste atleet geword het om ’n “droommyl” in die geskiedenis van die Eden Straatmylreeks te voltooi.
Nog ’n sterk teenstander is Beyon Prince, ’n voormalige Jeug-kategorie wenner en uitblinker uit Basil Abelse se Riversdal Super Kids-program.
Saam met hulle keer die verdedigende kampioen Keanu Domingo (beste 1500m van 3:36) en die voormalige jeugwenner Corné de Fouw terug, wat verseker dat die manskompetisie fel en opwindend gaan wees, met ’n mengsel van gevestigde kampioene en nuwe sterre wat die skares gaan bekoor.
Die dameswedlope is ewe boeiend. Veelvuldige voormalige wenner Simonay Weitsz sal sterk mededinging kry van verlede jaar se sensasionele 18-jarige kampioen Andrea Steynberg (PTC), wie se oorwinning haar as een van die blinkste jong talente in Suid-Afrikaanse middelafstand-atletiek gevestig het.
Hulle word vergesel deur Alri Verster, dogter van Springbok Jean en Alta Verster, wat reeds indruk maak in die junior afdeling, en plaaslike gunsteling Jandri Snyders van Hartenbos, wat ’n sterk tuisdorp-element aan die byeenkoms toevoeg.
Met Andrea Steynberg wat haar titel verdedig en Simonay Weitsz wat nog ’n kroon jaag, beloof die Dames Ope afdeling ’n spannende stryd tussen ervaring en jeug. Carina Viljoen, een van die vorige wenners en Olimpiese atleet, het ook aangedui dat sy gaan deelneem.
Meer as R60 000 se prysgeld is op die spel. Die hoofborge is NWU, ATKV Oorde Hartenbos, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake & Sport, Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, George Munisipaliteit, Mosselbaai Burgemeesterskantoor en MSEC.
Addisionele borgskappe en bystand word verleen deur Suzuki Oudtshoorn, Surval, Kleinplaas, Sante Fe Spur, ASWD, ASICS, TOP GEAR, EdenFM, Oasis Water en Jakhals Events Management.
Die Klein Karoo Atletiekfonds doen ook baie op die ontwikkelingsfront en word beginnersatlete aangemoedig om ook deel te neem.
Atlete kan in vyf ouderdomskategorië in die Eden Straatmylreeks meeding - Jong Talent (2011-2016), Jeug (2008-2010), Junior (2006-2007), Ope en 40+. Daar is ook ‘n prys vir die beste ASWD mans en damesatleet.
Meer inligting omtrent hoe om in te skryf asook die program is op www.edenmiles.co.za sowel as op Facebook beskikbaar. Laat inskrywings kan nog op dag van wedlope gedoen word!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’