Update
OUDTSHOORN NUUS - Saag Jonker het die aflosstok aan sy kinders oorhandig om met die wedloop voort te gaan. Dit was deel van die boodskap wat ds. Andries Potgieter Maandagoggend, 5 Oktober, met ongeveer 1 300 mense gedeel het wat van die bekende volstruisboer afskeid geneem het.
Die kerkgebou en saal van die NG Park-gemeente was stampvol, terwyl motors vir blokke ver in Buitekantstraat en in die systrate op elke beskikbare parkeerplek en sypaadjie gestaan het.
Hazel Jonker, Saag se weduwee, het voor die diens gesê dit is vir haar en die gesin 'n moeilike tyd om finaal van 'n eggenoot, pa en oupa afskeid te neem, maar dat dit saam met die afskeid ook 'n viering van sy lewe is en van dit wat hy vir almal beteken en nagelaat het.
Saag is Sondag 27 September in sy Land Cruiser van 'n laagwaterbrug deur die Olifantsrivier meegesleur. Die voertuig met sy liggaam is drie dae later, Dinsdagmiddag 29 September, deur duikers opgespoor.
Geliefd
Die uiteenlopendheid van mense wat die diens bygewoon het, het getuig van Saag se invloed en geliefdheid binne die breë Oudtshoorn-gemeenskap. Daar was werkers, sakekennisse, landbouers, sake-eienaars, vriende en verteenwoordigers van organisasies - elk met 'n besondere verbintenis aan die man wie se lewe as boer, sakeman, rugbyspeler, weldoener en patriarg oor meer as agt dekades gestrek het.
Die diens is ook regstreeks gestroom sodat mense van regoor die land en uit die buiteland dit kon volg.
Een van die drie teksgedeeltes wat Potgieter voorgehou het, was die gedeelte uit Prediker wat daaraan herinner dat elke ding 'n bepaalde tyd het.
Mense gee staande erkenning aan die rol wat Hazel Jonker in Saag se lewe, haar familie en in die gemeenskap speel. Foto: Leon Liebenberg
Ná afloop van Potgieter se boodskap het die Zimbabwiese sanger Tinotenda Singe (TiNO), wat in Afrikaans sing, die lied "Houtkruis" uitgevoer.
Daarna het die Saag se vier seuns, Morné, Hein, Niël en Darius, asook van die kleinkinders, elk op 'n unieke wyse hulde aan hul pa en oupa gebring.
Hoewel Saag reeds as jong man die volstruisbedryf begin verander het en ongekende sukses daarin en ook op ander terreine behaal het, was dit opvallend dat daar nie op sy suksesse as landbouer en sakeman gefokus is nie, maar eerder op hom as mens en die impak wat hy op die gemeenskap en die mense na aan hom gehad het.
Dat rykdom en roem nie Saag se droom was nie, is deur een van sy kleinseuns bevestig toe hy gesê het sy oupa wou nooit die mees suksesvolle boer of die beste sakeman of die rykste man wees nie. Hy wou net sorg dat sy kinders en kleinkinders 'n kas met skoon klere, 'n bord vol kos in die aande en 'n goeie ontbyt soggens kan hê.
Daar was verwysings na Saag se deursettingsvermoë en toewyding. Darius het gesê hy dink sy pa het dié eienskappe reeds as seun langs die Olifantsrivier ontwikkel. Hy het vertel dat sy pa saam met vriende in die Olifantsrivier gaan swem het. Hy het nie 'n fiets gehad nie en moes saam op een van sy vriende se fiets ry.
Toe hulle klaar geswem het, het die klomp vir hom weggery en hy moes omtrent 7 km huis toe stap. Terwyl hy gestap het, het hy homself belowe dat hy hulle eendag sal wys. Hy het daardie belofte aan homself nagekom.
Saag en sy vrou, Hazel Jonker. Foto: Verskaf
Beste besluit ooit
Die huldeblyke het egter nie net oor Saag gegaan nie, maar ook oor Hazel, wat al die jare sy aan sy saam met hom gewerk het.
"My pa het altyd gesê die beste besluit wat hy ooit geneem het, was om met my ma te trou."
Hy het ook vertel hoe Hazel reeds as 'n jong vrou in die gemeenskap gewerk het om werkers se omstandighede te verbeter, huise op te knap en skooltjies te vestig.
Die Jonker-broers se niggie, Vanda Forssman, het 'n huldeblyk aan Hazel gelewer en onder andere gesê dat 'n groot boom geval het. Daar moet egter onthou word dat 'n boom se wortels geanker en gevoed moet word, en dat Hazel daardie anker en voeding was wat Saag in staat gestel het om te groei.
Lees ook:
- Oudtshoorn neem Maandag afskeid van bekende boer Saag Jonker
- 3 dae van hoop, gebed en soektog: Saag Jonker gevind
- Jonker-familie bevestig Saag is steeds vermis
- Polisieduikers werk onder uiters moeilike toestande in Olifantsrivier
- Soektog na Saag verskerp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’