Update
OUDTSHOORN NUUS - ’n Groot naweek lê voor vir die oud-Langenhoven Gimnasium-leerder Marnus Botha, wat tans in Thailand is waar hy Suid-Afrika by die internasionale Mister Global-kompetisie verteenwoordig.
Botha neem dié naweek, Saterdag en Sondag 10 en 11 Oktober, aan die finale rondes van die kompetisie deel. Die kompetisie het reeds op 29 September afgeskop.
Dié pa van twee en stads- en streeksbeplanner by die Stad Kaapstad het reeds aan verskeie afdelings deelgeneem, waaronder die swemklere-, Gentlemen with Essence-, uitrusting- en formele swartdaspak-rondtes.
Donderdag 8 Oktober het hy Suid-Afrika se nasionale drag op die internasionale verhoog vertoon.
Vir Botha is die geleentheid om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig ’n groot eer. Hy het in Augustus verlede jaar as eerste naaswenner in die gesogte Mister Global South Africa-kompetisie geëindig en ook die Public Choice Award en Charity Award gewen. Hy was verder ’n finalis in die Mister South Africa-kompetisie van 2024.
Hoewel die kompetisie se strawwe program uitdagend kan wees, sê Botha hy geniet die ervaring in Thailand ten volle.
“Ons doen elke dag iets anders. Ek geniet dit verskriklik om meer oor Thailand, die mense en die kultuur te leer. Ons sien en beleef elke dag iets nuuts,” sê hy.
Die vol program bied egter min kans om asem te skep.
“Om by die skedules te hou, is soms uitdagend. Ons programme is nogal vol en ons moet gereeld shoots vir borge doen, en dan kom die dress rehearsals ook nog by.”
Met die finale rondes dié naweek, is die fokus nou op Botha se laaste optredes. Hy hoop om Suid-Afrika se naam hoog te hou in een van die wêreld se voorste internasionale manskompetisies.
Lees ook:
Marnus Botha in Thailand vir Mr Global
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’