OUDTSHOORN NUUS - Marnus Botha, ’n oud-Gimmie, het Sondag in Thailand geland waar hy Suid-Afrika by die internasionale Mister Global-manskompetisie gaan verteenwoordig.
Botha het in Augustus verlede jaar as eerste naaswenner by die prestigeryke Mister Global South Africa-kompetisie geëindig. Hy het ook die Public Choice Award en Charity Award ingepalm. Hy was verder ’n finalis in die Mister South Africa-kompetisie van 2024.
Vir Botha, ’n pa van twee en stads- en streekbeplanner by die Stad Kaapstad, is dit ’n groot eer om Suid-Afrika op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig.
“Ek is gereed om ons pragtige reënboognasie by Mister Global in Thailand te verteenwoordig. Ek voel ongelooflik geëerd en wil graag vir die wêreld wys waaroor Suid-Afrika gaan.”
Hy het ook die publiek bedank vir die ondersteuning wat hy sedert die aankondiging ontvang het.
“Ek het soveel boodskappe, liefde en ondersteuning op sosiale media ontvang. Baie dankie, ek waardeer dit opreg.”
Volgens Botha gaan sy reis egter nie net oor die kompetisie nie.
“My reis eindig nie op die verhoog nie. Dit is die begin van iets groter. Ek wil ’n stem wees vir hulle wat nie gehoor word nie, en ’n voorbeeld wees vir my seun én vir ander jong Suid-Afrikaners.”
Die Mister Global-kompetisie vind van 29 September tot 11 Oktober plaas, met die twee hoofaande op 10 en 11 Oktober.
Botha en die ander deelnemers sal vanaf 30 September tot 7 Oktober aan verskeie afdelings, amptelike aktiwiteite, kulturele uitstappies, onderhoude en kompetisieverwante geleenthede deelneem.
“Die swemdragvertoning vind eerste plaas. Daarna, van 1 tot 7 Oktober, volg amptelike aktiwiteite, kulturele uitstappies, onderhoude en kompetisiebyeenkomste. Dan is daar twee dae se kleedrepetisies voordat die amptelike kompetisie plaasvind.”
Intussen kan die publiek steeds vir Botha in die Mister Popularity-afdeling stem. Hy is tans onder die top vyf in dié kategorie.
Lede van die publiek kan een gratis stem per dag uitbring deur hier te stem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’