OUDTSHOORN NUUS - Die vertoë en pleitonderhandeling wat Samantha Meyer (40), tot die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gerig het, was onsuksesvol.
Meyer was die bestuurder van die voertuig wat op 8 November 2024 op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat in Oudtshoorn in 'n botsing met die motor van 'n jong onderwyser betrokke was.
Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die DOV ook gelas dat die beskuldigde skuldig moet pleit wanneer die verhoor begin.
Meyer word aangekla van strafbare manslag, dronkbestuur, roekelose en/of nalatige bestuur.
Die 24-jarige JP 'Pokkels' Sauls, wat 'n onderwyser aan die Laerskool PJ Badenhorst in Dysselsdorp was, is in die ongeluk dood.
Sy Volkswagen Golf het na die botsing aan die brand geslaan en hy is deur twee verbygangers uit die brandende voertuig gehaal. Hy is later op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Die klag van strafbare manslag is op 10 Junie 2025 in die distrikshof deur die staat teruggetrek, maar later weer tot die klagstaat gevoeg.
Die saak is vir verhoor na die streekhof oorgeplaas waar dit voor streeklanddros Ntsoki Moni dien. Meyer word deur Bulelani Bans verteenwoordig. Die nuwe verhoordatum is 27 Maart.
Vorige berigte:
- Vrou se dronkbestuur saak sloer
- Meyer gaan wel van strafbare mansslag aangekla word
- Sauls-familie woendend oor onregverdige hofbesluit
- Saak van strafbare manslag teen bestuurder teruggetrek
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’