Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Samantha Meyer (40), die vrou wat op 8 November 2024 met haar motor in 'n botsing met 'n Volkswagen Golf van 'n jong onderwyser van Dysselsdorp was, is Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof vir verhoor na die streekhof oorgeplaas.
Meyer staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van alkohol en roekelose en/of nalatige bestuur.
Die aanklag van strafbare manslag is op 10 Junie deur die staat teruggetrek, maar later weer op die klagstaat geplaas. Die klag van roekelose en/ of nalatige bestuur is ook bygevoeg.
Meyer se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, het Maandag beswaar aangeteken en die besluit van die staat as ondeurdag en onaanvaarbaar beskryf.
Volgens Bans het hy op 20 Junie 'n skrywe aan die senior staatsaanklaer gerig waarin hy die redes vir die terugplasing van die aanklag gevra het, nadat hy die vorige dag (19 Junie 2025) 'n e-pos van die staat ontvang het waarin hy hieroor ingelig is.
Hy het egter nie eers 'n erkenning van ontvangs van sy skrywe van die senior streekhofaanklaer ontvang nie.
Hy het die hof versoek dat die besluit van 10 Junie moet staan of die saak in totaal van die hofrol verwyder moet word.
Landdros Zuastrid Deyce het dit egter aan Bans gestel dat sy dit nie kan doen nie, en die saak vir verhoor in streekhof 2 tot 13 Augustus uitgestel.
Meyer is uit op waarskuwing.
Vorige berigte:
- Meyer gaan wel van strafbare mansslag aangekla word
- Sauls-familie woendend oor onregverdige hofbesluit
- Saak van strafbare manslag teen bestuurder teruggetrek
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’