OUDTSHOORN NUUS - Collegians het die afgelope naweek die span van Willowmore oortuigend met 29-07 geklop nadat hulle rustyd 12-0 voorgeloop het.
Dit was 'n spannende en aanskoulike wedstryd waar beide spanne se spelers die bal lustig hanteer het. Die voor- en agterspelers aan beide kante het mekaar goed ondersteun, maar Collegians se verdediging was te goed vir Willowmore.
Collegians het eerste punte aangeteken toe hul regtervleuel, Jason Plaatjies, na pragtige individuele spel, vir die eerste drie oorgeduik het. Die drie is ongelukkig nie verdoel nie.
Na die inskop het Collegians die druk op Willowmore begin toepas en met hul dryfkrag deur die voorspelers, veld gewen. Hul skrumskakel, Leagan Britz, het toe oorgeduik vir die tweede drie van die wedstryd en is uitstekend deur die losskakel, Prinshane Carolus, verdoel.
Met die aanbreek van die tweede helfte, het Collegians aanval op aanval op die doellyn van Willowmore geloods, maar net verkeerde besluite het verhoed dat hulle punte kon aanteken.
Collegians het wakker geskrik en na goeie spel deur die voor- en agterspelers, het hul een senter, Marshall Fortuin, deurgebars vir die derde drie, wat weer deur Carolus verdoel is.
Collegians het die druk op Willowmore volgehou en, na onkantspel deur Willowmore, slaag Carolus met 'n strafskop wat die telling op 22-0, in Collegians se guns, te staan bring.
Hiérna was Willowmore meer op die wedstryd gefokus en het baie druk op Collegians geplaas en so doende hul sewe punte, te danke aan 'n drie en doelskop, op die telbord gesit.
Nigel Buys dryf met die bal.Michael Tyali, Collegians se een flank het deur die verdediging van Willowmore gebreek en pragtig afgerond met die drie onder die pale wat verspot maklik deur Carolus verdoel is.
Julian Fillies, sekretaris van Collegians, sê dit was weereens 'n goeie vertoning deur die jong spelers van Collegians.
"Dit het gewys dat hulle kan speel soos die afrigters wil hê. Die speler van die wedstryd was die jong losskakel, Prinshane Carolus, wat almal met sy skitterende spel verbaas het."
• Collegians se B-span het die B-span van Willowmore met 29-12 geklop nadat hulle rustyd 10-0 voor was.
Hulle speel Saterdag tuis teen die span van Beaufort-Wes. Die wedstryd word op die Rec gespeel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'