Dis inderdaad altyd beter om vooraf te weet hoeveel jy aan 'n huis kan bestee, sê Richard Gray, uitvoerende hoof van die Harcourts-eiendomsgroep, en vir die meeste mense sal dit deur drie faktore bepaal word, naamlik:
- Die omvang van die huislening waarvoor jy gaan kwalifiseer;
- Die bedrag in kontant wat jy byderhand het vir 'n deposito en transaksiekoste soos oordrag, verbandregistrasie en regskoste; en
- Die prys wat jy as redelik en realisties beskou met inagneming van jou eie behuisingsbehoeftes en ander finansiële mikpunte.
Banke bepaal hoeveel hulle bereid is om aan 'n spesifieke persoon te leen nadat sy kredietrekord, werkrekord en heersende finansiële posisie nagegaan is. Ingevolge die streng reëls van die Nasionale Kredietwet moet banke seker maak dat die persoon wat vir die lening aansoek doen die nuwe verbandbetalings en enige bestaande finansiële verpligtinge gemaklik kan bekostig en nie in 'n geldelike verknorsing gaan beland as rentekoerse styg nie.
Selfs mense met ’n hoë inkomste kan soms nie vir die lening wat hulle verlang, kwalifiseer nie omdat hulle reeds ander skuld het wat elke maand 'n hap uit hul besteebare inkomste neem. En dit sou beslis 'n aanduiding wees dat hulle goedkoper eiendom as wat hulle aanvanklik beoog het, moet teiken.
Voornemende kopers kan maklik bepaal hoe groot die lening is waarvoor hulle kwalifiseer deur die tabel op verbandkonsultant ooba se webtuiste (www.ooba.co.za) te gebruik. Hulle kan ook met die hulp van 'n verbandkonsultant 'n vooraf-kwalifisering verkry wanneer hulle in alle erns begin huis soek.
Ooba het byvoorbeeld 'n netwerk kundiges regdeur die land wat met voornemende kopers sal skakel, die tersaaklike dokumentasie sal aanvra en hulle binne 24 uur van 'n gratis sertifikaat vir vooraf goedkeuring en 'n kredietverslag sal voorsien.
"So 'n sertifikaat kan die deurslag gee in prysonderhandelings omdat dit verkopers die gemoedsrus gee dat 'n geldige aanbieding vir hul eiendom gemaak word en dat daar 'n uitstekende kans is dat die aansoek om 'n huislening vinnig goedgekeur gaan word."
Terselfdertyd sê hy dat mense met min skuld wat vir 'n deposito en transaksiekoste gespaar het heel moontlik duurder eiendom as wat hulle aanvanklik gedink het, sal kan bekostig aangesien 'n kleiner huislening nodig gaan wees.
"Maar," sê hy, "sulke kopers is straks beter daaraan toe om eerder die soort eiendom wat hulle aanvanklik geteiken het, te koop en 'n kleiner lening uit te neem sodat maandelikse verbandbetalings so laag as moontlik gehou word. Kleiner maandelikse betalings gee huiseienaars beslis meer finansiële beweegruimte wanneer rentekoerse verhoog word en gee hulle boonop die geleentheid om die eiendom vinniger af te betaal. Dis natuurlik ook goedkoper om kleiner eiendom te onderhou.
"Daarby het elke mens sy eie gemaksone wat skuld aanbetref en voornemende kopers behoort hul eie perk te bepaal voordat hulle koop sodat hul kopie nie later 'n straf eerder as 'n plesier word nie."
Uitgereik deur Harcourts Real Estate