Update
OUDTSHOORN NUUS - Die moordverhoor van Preston Titus het vanoggend met die lees van 'n verklaring van Masithembe January (MJ), een van die verdagtes in die saak, begin.
Staatsadvokaat Christhénus van der Vijver het vanoggend aan die hof gesê MJ het die verklaring op 12 April 2018 by die polisie afgelê.
In die verklaring sê hy dat hy en Magdaleen Titus, Preston se vrou, Justice Mooi (die beweerde huurmoordenaar) in Port Elizabeth in ontmoet het.
Volgens die verklaring het Titus en Mooi 'n vergadering gehad en MJ het na die tyd vir Titus gevra waaroor dit gegaan het. Volgens die verklaring het Titus aan MJ gesê dat sy iemand gekry het om haar man te vermoor omdat haar man glo ook haar wou vermoor.
Luidens die verklaring het Titus ook vir MJ gevra of hy haar sal bystaan wanneer die plan deurgevoer word, waarop hy geantwoord het dat hy nie seker is of hy sal nie.
Van der Vijver het ook aan die hof gesê dat Mooi se regsverteenwoordiger, adv. Stoffel Prinsloo, die bekentenis wat Mooi na bewering afgelê het in die hof betwis, omdat daar beweringe is dat die verklaring onder dwang afgelê is en dat Mooi deur die polisie aangerand is.
Die hof het toestemming tot 'n verhoor binne 'n verhoor verleen sodat die kwessie rondom die omstandighede waaronder die verklaring afgelê is opgelos kan word.
Ao. Blackie Swart was die eerste getuie. Hy het ondermeer getuig dat hy die beampte was wat Mooi na die Oudtshoorn-hospitaal geneem het voor en na die aflê van die bekentenis.
Volgens hom is die doel van die hospitaal besoek sodat 'n dokter hom kon ondersoek om te bewys of daar enige beserings aan Mooi toegedien is.
Prinsloo het dit aan hom gestel dat die dokter nooit die regte ondersoek gedoen het nie en slegs bewys het dat sy kliënt nie onder die invloed van drank was nie.
Mooi beweer verder dat sy regte nie op die regte wyse aan hom voorgelê is nie.
Sers. Vuhokazi Ludanga, wat saam met kapt Deon Bouwer en ao. Martin le Roux - twee ondersoekbeamptes - na Port Elizabeth gereis het om Mooi daar in in hegtenis te neem, was die volgende getuie.
Volgens haar is Mooi in 'n McDonalds in Port Elizabeth in hegtenis geneem en is sy regte in Engels aan hom voorgehou. Hy het, volgens die sersant se getuienis, ook aan Le Roux in Engels gesê dat hy sy regte verstaan.
Die verhoor sal môreoggend voortgaan.
Lees die volledige berig in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Selfoonrekords ontleed
- Weermagmoord: Moordverhoor uitgestel
- Weermagmoord: Week 3 van moordverhoor
- Weermagmoord: Titus sê Klip is meesterbrein
- Weermagmoord: Ter plaatse ondersoek
- Weermagmoord: Staat klaar met Klip
- Weermagmoord: Klip getuig in moordverhoor
- Weermagmoord: Dag 4 van weermagmoordverhoor
- Weermag-moordverhoor begin
- Dag 3 van weermagmoordverhoor
- Opvolg: Dag 2 van Weermagmoordverhoor
- Weermagmoord-verhoor: Dag 2
- Opvolg: Weermagmoord-verhoor
- Weermagmoord: Saak begin amptelik
- Weermagmoord: Verdagtes vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'