Update
OUDTSHOORN NUUS - Meer as 'n jaar na die moord op stafsersant Preston Titus, het die verhoor amptelik Maandag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn begin en Woensdag vir dié week tot 'n einde gekom. Die verhoor sal komende Maandag weer voortgaan.
Preston is die nag van 1 Desember 2017 in sy woning op die weermagbasis vermoor. Sy bebloede liggaam is deur sy vrou, Magdaleen Titus, in sy kamer ontdek.
Titus is in Januarie 2018 vir die moord in hegtenis geneem en daar word beweer dat sy die meesterbrein agter die moord is. Daar word beweer dat sy twee mans gehuur het om hom te vermoor. Masithembe January (MJ), Justice Mooi en Natasha Stuurman is ook in verband met die moord in hegtenis geneem. Vandeesweek se verhoor het as volg verloop:
DAG 1 - Maandag 25 Februarie
Pleit
Maandag se hofverrigtinge het begin met die uitlees van die klagtes teen hulle. Al vier verdagtes staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en verberging van bewyse sodat die beskuldigdes nie geïdentifiseer kan word nie.
Die beskuldigdes het deur monde van hul regsverteenwoordigers aangedui dat hulle al vier onskuldig pleit op die aanklagte teen hulle en dat hulle op die stadium van hul swygreg gebruik gaan maak.
Ter plaatse ondersoek
Daarna is die beskuldigdes saam met hul regsverteenwoordigers, die regter, Nolwazi Boqwana en die staatsaanklaer, adv. Christénus van der Vijver, na die woning op die weermagbasis waar Preston se liggaam gekry is.
Titus het emosioneel voorgekom terwyl sy die toneel besoek het en het elke nou en dan die trane van haar wange afgevee.
Die ondersoekbeampte, ao. Martin le Roux en Van der Vijver, het aan die regter verduidelik wat na bewering die nag van Preston se moord in die huis sou gebeur het.
Daar is tydens die ondersoek spesifiek op die deur waar die moordenaars na bewering die huis binnegekom het, klem gelê omdat daar beweer word dat die deur nie van buite af oopgemaak kon word nie. Die regter is ook na die kamer waar die moord plaasgevind het en daar is aan haar verduidelik dat Preston se liggaam tussen die twee enkelbeddens, wat op daardie stadium in die kamer was, gevind is. Preston en sy vrou het nie in een kamer geslaap nie en Titus het die aand van die moord saam met haar jongste dogter in die kamer reg langs Preston geslaap.
Adv. Christénus van der Vijver in die kamer waar die moord gepleeg is.
Sy beweer dat sy nie die struweling tussen haar man en sy moordenaars gehoor het nie en dat sy eers wakker geword het na haar oudste dogter, wat die aand gaan kuier het, huis toe gekom het en aan die venster geklop het. Sy het toe op haar man se liggaam afgekom.
Regsverteenwoordigers
Titus word deur adv. Mustaque Holland verteenwoordig. Mooi word deur plaaslike advokaat Stoffel Prinsloo verteenwoordig, MJ word deur Louise Luterek wat deur die staat aangestel is verteenwoordig en Stuurman deur Chris Morgan.
DAG 2 - Dinsdag 26 Februarie
Die patoloog dr. Mariette Hurst, was Dinsdag se eerste getuie. Sy het in detail getuig oor die beserings wat Preston opgedoen het.
Volgens haar was meeste van die beserings aan sy gesig en is sy kakebeen ook gekraak. Hy het verskeie steekwonde agter sowel as voor aan sy lyf gehad en 'n diep snywond aan sy nek. Een van die steekwonde was 12 cm diep.
Van der Vijver, het dit aan haar gestel dat daar 'n Okapi-mes en 'n hamer langs die Mosselbaai-pad gevind is wat moontlik die moordwapens kon wees. Sy het gesê dat die beserings moontlik met die wapens toegedien kon word.
Volgens haar getuienis is hy aan bloedverlies dood en is daar 'n moontlikheid dat die beserings aan sy arm en knie selfverdedigingswonde kon wees.
Van der Vijver het haar gevra of daar toetse gedoen is wat sal wys of daar enige middels in Preston se bloed gevind is. Volgens hom is daar bewerings dat iemand slaappille en remvloeistof in Preston se kos sou gooi die aand van die moord. Hurst het gesê dat sulke toetse alleenlik gedoen word wanneer daar iets vreemd in die maag gevind is, en dat sulke toetse nie gedoen is nie.
James Dido, 'n vriend en kollega van Preston, was die tweede getuie van die dag. Volgens hom woon hy twee huise van die Titusse se woning en was hy van die eerstes op die toneel die aand van die moord. Hy het getuig dat hy na 23:00 op 1 Desember deur sy seun geroep is en aangesê is om dadelik na Preston se huis te gaan. "Ek het dadelik na die huis toe gehardloop. Ek het by die kombuisdeur ingehardloop, maar moes basies onmiddellik weer uit want daar was 'n sterk pepersproei reuk in die huis."
Hy het daarna weer in die huis ingegaan.
Hy het getuig dat daar baie bloed op die toneel was en dat Preston op sy maag op die grond tussen twee enkelbeddens gelê het. Hy het na die buurman gegaan om vir hulp te bel omdat hy nie sy foon by hom gehad het nie. Volgens hom was daar geen gebreekte ruite nie en was daar ook nie items in die huis wat uit plek uit was nie.
Volgens hom het die Titusse as 'n gelukkige gesin voorgekom en Preston het vir sy vrou en kinders geleef. Hy het gesê dat hy wel bewus is van die feit dat Preston en sy vrou nie 'n kamer gedeel het nie omdat Preston gesnork het en omdat die ander kamers volgens Preston te warm was.
Andries Willemse, die buurman reg langs die Titusse het ook getuig en gesê hy het die betrokke aand omstreeks 22:00 vanaf Bloemfontein by sy huis aangekom. Hy het getuig dat dir vir hom vreemd was dat die Titus-huis, waar ligte gewoonlik brand, donker was."Hy het verder getuig dat hy een van die Titusse se voertuie by die erf sien uitry het, maar dat hy nie kon sien wie in die motor was nie."
Justice Mooi en Magdaleen Titus in die beskuldigde bank.
DAG 3 - Woensdag 27 Februarie
Ao. Quinton May, die eerste polisiebeampte op die toneel, het gesê dat hy en 'n kollega patrolliewerk in Kerkstraat gedoen het toe 'n voertuig met twee persone hulle stop en sê dat daar moeilikheid in die weermagkamp was.
Volgens sy getuienis is hulle na Preston se huis waar hy op die liggaam afgekom het. Hy kon nog pepersproei in die kamer ruik. Hy het ook getuig dat Magdaleen Titus (Maggie) op daardie stadium "histeries" was en inmekaargesak het waarna hy gesê het dat iemand haar dokter toe moet neem.
Paulton Jacobs, 'n vriend van die Titusse se oudste dogter het ook getuig.
"Die oudste dogter het saam met 'n vriendin by die huis van een van my vriende opgedaag. Sy het gevra dat ek haar moet huis toe neem omdat ek ook in die weermagkamp woon."
Volgens hom het hy saam met die dogter by die erf ingestap omdat dit al laat was en sy het aan die deur geklop.
"Daar was geen antwoord nie en sy het haar pa gebel waarna ons skielik haar ma (Maggie) in die huis hoor skree het. Ek het by die huis in gegaan en omdat ek gedink het dit kan dalk inbrekers of 'n slang wees en dit is toe ek Preston se liggaam sien."
Majoor Fredrick Viljoen, verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weermag, het getuig dat hy en 'n kollega vir kapt. Deon Bouwer, een van die ondersoekbeamptes, gehelp het om items wat met die moord verband hou op die Mosselbaai-pad te gaan soek.
Volgens hom is hy deur Bouwer gekontak.
"Ek en 'n kollega het al die driffies langs die pad deursoek. Ons het by een van die driffies naby die Kandelaarsrivier op twee messe, 'n hamer en bebloede klere afgekom. Ons het kapt. Bouwer gekontak en die polisie het die bewysstukke gaan haal."
Van der Vijver het in die hof aangedui dat Preston se bloed op een van die messe sowel as die hamer gevind is.
Elvis Jansen, 'n taxibestuurder het getuig dat hy 'n man, wat hy in die hof as verdagte een (Justice Mooi) uitgewys het en 'n onbekende Xhosa-persoon van Port Elizabeth na Oudtshoorn gebring het.
Natasha Stuurman en Masithembe January voor die verhoor begin. Foto's: Liezl van Niekerk
Volgens hom het 'n oproep ontvang en 'n persoon het gevra om Mooi by 'n winkelsentrum in Port Elizabeth op te laai en na Oudtshoorn te bring.
"Ek en my mededrywer, Dawid Oliphant, het hom gaan haal, maar toe is daar nog iemand by (die onbekende man) waarvoor daar nie bespreek is nie. Ons het hulle opgelaai en albei het in Oudtshoorn afgeklim."
Volgens hom het Mooi 'n oproep in De Rust gekry en die selfoon vir hom gegee.
"'n Vrou wat Engels praat het gesê ons moet hulle by die begraafplaas buite Oudtshoorn aflaai. Dit was 'n vreemde versoek, want ons laai passasiers op vasgestelde plekke af. Ons het naby die begraafplaas gestop en daar was 'n donker voertuig wat daar gewag het. Die bestuurder het agter die taxi parkeer, maar ek kon nie sien wie in die voertuig was nie."
Volgens Oliphant se getuienis het hy Mooi en die onbekende man uit die taxi gehelp en hulle het saam by dié voertuig ingeklim. Volgens hom was dit Magdaleen Titus wat die voertuig bestuur het.
Haar advokaat, Mostaque Holland, het dit egter aan Oliphant gestel dat dit Sixabiso Klip was wat die motor bestuur het.
Klip het reeds 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy sal na verwagting Maandag getuig.
Dina Gelant was die laaste getuie. Sy was die afgelope 10 jaar die Titusse se huishulp. Volgens haar het sy die Vrydag van 1 Desember huis skoongemaak.
Sy het getuig dat sy gewoonlik die een is wat die agterdeur (waar die moordenaars na bewering ingekom het) gebruik het en dat die deur nie van buite kan oopmaak nie. Sy het verder gesê dat daar spykers in die deur gekap is wat sy self oop en toe gebuig het om die deur toe te hou.
Die saak is deur regter Nolwazi Boqwana tot Maandag uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Dag 3 van weermagmoordverhoor
- Opvolg: Dag 2 van Weermagmoordverhoor
- Weermagmoord-verhoor: Dag 2
- Opvolg: Weermagmoord-verhoor
- Weermagmoord: Saak begin amptelik
- Weermagmoord: Verdagtes vandag in hof
- Maggie titus se prokureur onttrek
- Voorverhoor in Titus-Moord uitgestel
- Weermagmoord na hooggeregshof
- Hooggeregshofdatums vir soldaat se moordverdagtes
- Weermagmoord: Saak uitgestel
- Weermagmoord-saak uitgestel
- Weermagmoord-saak uitgestel
- Weermagmoord: MJ borgtog geweier
- Maggie en medebeskuldigdes in hof
- Weermagmoord-verdagte laat vaar borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgaansoek van MJ uitgestel
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Vyfde verdagte vas
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'