Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die moordverhoor van Preston Titus het gisteroggend vir die week klaargemaak. Staatsadvokaat Christénus van der Vijver het aangedui dat hulle na verwagting Maandag met getuies, wat oor selfoonrekords gaan getuig, sal begin. Die vier beskuldigdes in die verhoor is Magdaleen Titus, Natasha Stuurman, Justice Mooi en Masithembe January oftewel MJ.
Klip getuig
Sixabiso Klip, die verdagte wat die dag van Magdaleen Titus se arrestasie 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis is, het Maandag begin getuig. Daar word beweer dat Titus, 'n ANC-raadslid in Oudtshoorn, die moord op haar man beplan het.
Klip het begin deur sy werksverhouding met Titus te verduidelik en gesê dat hy nooit 'n liefdesverhouding met haar gehad het nie. Volgens hom het sy egter wel 'n verhouding met Masithembe January gehad. Die staatsaanklaer het hom gevra of Titus nog verhoudings buite die eg gehad het, waarop hy gereageer het dat daar baie ander verhoudings was.
Volgens Klip moes die moord op Preston op 30 November 2017 plaasgevind het. Dit kon egter nie gebeur nie omdat Preston vriende gehad het wat daardie aand by hom oorgeslaap het.
Daarna het Titus, volgens hom, daarop aangedring dat die moord die middag van 1 Desember moes plaasvind. Sy het die kinders vir die middag uitgeneem. Justice Mooi het volgens Klip se getuienis pepersproei en slaappille gekoop waarna hy Mooi en 'n onbekende man (bekend aan die ondersoekspan as Vusumsi) wat saam met Mooi van Port Elizabeth af gekom het, na Titus se huis gegaan het.
Volgens sy getuienis het hulle nie met die beplande moord voortgegaan nie.
Sixabiso Klip op pad na die getuiebank.
Hy het verder getuig oor die hamer wat ook in die moord gebruik is en dat Mooi hom gevra het om die hamer te bring. Hy het ook getuig oor die R30 000 wat hulle sou ontvang en dat hy die motor bestuur het om die beweerde huurmoor-denaars tot by Titus se huis te neem en te wag tot hulle klaar is met die moord.
Hy het verder getuig dat die moord die aand van 1 Desember gepleeg is en dat hy Mooi en die onbekende man, wat na bewering die moord gepleeg het, via die Mosselbaai-pad na George geneem het.
Volgens hom was Natasha Stuurman, die vriendin van Titus by wie se huis die vermeende huurmoordenaars geslaap het, en MJ nie in Oudtshoorn toe die moord gepleeg is nie.
Ter plaatse ondersoek
Die rondgaande hooggeregshof het Dinsdag onder groot polisieteenwoordigheid 'n ter plaatse ondersoek in Derdelaan Bongolethu, by die woning van Stuurman gehou.
Chris Morgan (Natasha Stuurman se regsverteenwoordiger), Joey Nel en Stuurman, tydens die ter plaatse ondersoek in Derdelaan. Foto's: Liezl van Niekerk
Stuurman se prokureur, Chris Morgan, het die ondersoek gelei en aan die ander regsverteenwoordigers sowel as die regter die binnekant van die huis verduidelik. Al vier beskuldigdes en hulle regsverteenwoordigers was deel van die besoek. Klip is deur amptenare van korrektiewe dienste na en van die huis vervoer. Sy ouma, wat oorkant die straat van Stuurman se huis woon, was daar om hom te groet.
Kruisondervraging
Mooi se prokureur, adv. Stoffel Prinsloo, het met die kruisondervraging begin en gesê dat sy kliënt se weergawe van die gebeure van Klip s'n verskil.
Volgens hom het Mooi self sy taxi van Port Elizabeth af na Oudtshoorn bespreek en was hy op Oudtshoorn vir 'n kerkdiens. Hy het egter met sy aankoms op Oudtshoorn uitgevind dat die kerkdiens op Beaufort-Wes is en nie op Oudtshoorn nie en Klip gevra om hom terug te neem na Port Elizabeth.
Prinsloo het ook aangedui dat sy kliënt en die onbekende man, wat na bewering ook 'n huurmoordenaar is, niks met mekaar te doen het nie en dat Mooi hom glad nie ken nie.
Volgens hom het Mooi die aand van die beweerde moord in George oorgeslaap omdat Klip hom nie kon terugneem Port Elizabeth toe nie en dat Klip die verblyf betaal het.
Titus se prokureur, adv. Mostaque Holland, het gesê volgens sy kliënt het Titus en Klip mekaar reeds in 2015 ontmoet toe hy haar na 'n begrafnis geneem het. Klip het dit erken, maar gesê dat hulle nie toe al vriende was nie.
Holland het dit ook aan Klip gestel dat Titus van mening is dat Klip erg jaloers was en dat hy een aand, na hy te veel gedrink het, in 'n vuisgeveg met 'n ander man betrokke geraak het omdat die man by Titus aangelê het.
Justice Mooi en Magdaleen Titus in die beskuldigde bank.
Titus beweer ook dat Klip gereeld dronk raak. Klip het dit egter ten sterkste ontken en gesê hy het nog nooit iemand oor Titus geslaan nie. Hy het egter wel erken dat hy by geleentheid baie drink, maar nie as hy weet hy moet bestuur nie.
Holland het verder gesê dat Titus, Klip finansieel met Klip se vriendin en haar kind gehelp het. Volgens Holland het Klip ook 'n verhouding met 'n man gehad en het die man en die vriendin so jaloers geraak op die vriendskap tussen Titus en Klip dat Titus nie by Klip se woonstel kon kom nie.
Adv. Stoffel Prinsloo
Volgens Holland het Titus ook nooit met Mooi oor 'n beplande moord gepraat nie en het hulle net oor politiek gesels omdat sy uitgevind het dat Mooi familie is van die struggle-ikoon, Chris Hani.
Holland het dit toe aan Klip gestel dat daar verskille is tussen dit wat Klip in die hof getuig en dit wat in sy verklaring is. Volgens Holland probeer Klip op enige manier die verdagtes voor die hof in die moord impliseer en, omdat sy weergawe onwaar is, verskil dit wat hy in die hof getuig het van dit wat in sy verklaring staan.
Holland het dit ook aan Klip gestel dat hy eintlik die meesterbrein agter die moord op Preston was en nie Titus nie.
Teen saktyd gister is die kruisverhoor hervat.
Nuuskierige inwoners drom voor Natasha Stuurman se huis saam tydens Maandag se ter plaatse ondersoek. Foto: Hannes Visser.
Kyk 'n video hieronder:
Drie beskuldigde en regslui tydens die ter plaatse ondersoek in Natasha Stuurman se huis. Van links is: Magdaleen Titus, Justice Mooi, adv. Mostaque Holland (Titus se regsverteenwoordiger), Louise Luterer (Masithembe January se regsverteenwoordiger) en Natasha Stuurman.
Lees vorige artikels hier:
- Weermagmoord: Ter plaatse ondersoek
- Weermagmoord: Staat klaar met Klip
- Weermagmoord: Klip getuig in moordverhoor
- Weermagmoord: Dag 4 van weermagmoordverhoor
- Weermag-moordverhoor begin
- Dag 3 van weermagmoordverhoor
- Opvolg: Dag 2 van Weermagmoordverhoor
- Weermagmoord-verhoor: Dag 2
- Opvolg: Weermagmoord-verhoor
- Weermagmoord: Saak begin amptelik
- Weermagmoord: Verdagtes vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'